On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Kimberley-meisie kort dringend hulp weens gedurige floutes

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:00 Mon, 02 Sep 2024

Kimberley-meisie kort dringend hulp weens gedurige floutes  | News Article
Anneke en Linke Kruger (11). Foto verskaf

“Linke is toe vir drie dae in die hospitaal opgeneem, waar sy ’n reeks toetse ondergaan het, insluitend ’n EKG, EEG, bloedtoetse, ’n hartsonar en urinetoetse.”

’n Gesin van Kimberley kort geldelike hulp om hul dogter by ’n dokter uit te kry sodat sy behandel kan word vir gereelde floutes.

Linke Kruger (11) het die afgelope twee weke agt keer flou geval. Nadat talle toetse uitgevoer is, is haar gesin ingelig dat Linke ’n spesialis in Alberton moet spreek.

Anneke, Linke se ma, vertel die probleem het ewe skielik twee maande gelede begin. “Ek het eers gedink sy sit bietjie aan, maar ná die derde keer het ek besef dis baie ernstiger as wat ek gedink het.”

‘Sy het gesukkel om te loop, moeilik asemgehaal en bleek gelyk’

Die eerste floute was terwyl Linke tuis op haar bed gelê het, maar dit was nie dadelik vir haar of haar gesin duidelik wat aan die gebeur is nie. Linke het egter kort daarna ook by die skool flou geval.

“Sy het gesukkel om te loop, moeilik asemgehaal en bleek gelyk. Ek het haar na ons huisdokter geneem, wat ons na ’n pediater verwys het vir verdere toetse,” sê Kruger.

Linke is toe vir drie dae in die hospitaal opgeneem, waar sy ’n reeks toetse ondergaan het, insluitend ’n EKG, EEG, bloedtoetse, ’n hartsonar en urinetoetse.

Linke en haar boetie, Lihan. Foto verskaf

Medici het lae ystervlakke en ’n outonome senuweestelseldisfunksie by haar gediagnoseer. “Hoewel ysteraanvullings voorgeskryf is, is daar geen spesifieke medikasie vir die disfunksie nie, behalwe om haar inname van water en sout te verhoog,” vertel Kruger.

Ongelukkig was die hoop dat Linke se toestand sou verbeter het van korte duur. Skaars drie weke later het haar simptome teruggekeer, hierdie keer selfs hewiger.

Anneke vertel dat Linke se hartklop soms die hoogte inskiet terwyl haar suurstofvlakke daal. “Haar liggaamstemperatuur val onder 35 °C en sy het ook al verskeie kere druk op haar bors gevoel.”

Linke en haar pa, Hano. Foto verskaf

Linke, wat uitblink in redenaars, het weer flou geval pas nadat sy ’n toespraak in die redenaarseindronde van Artistatue gelewer het. Dit was die eerste keer wat Anneke gesien het hoe haar dogter flou val. Vir haar as ma was dit ’n vreesaanjaende ervaring, vertel sy. Later die aand het Linke weer flou geword.

Wat die situasie selfs uitdagender maak, is dat Linke voor elke floute verskillende simptome ervaar. Die algemeenste op die oomblik is dat haar gesig eers bleek word en dan bloedrooi net voordat sy flou val.

‘In hierdie stadium is die oorsaak van die floutes nog onduidelik’

Hulle het vir haar ’n horlosie gekoop om haar lewenstekens dop te hou. “Tydens hierdie episodes is haar hartklop baie hoog, en haar suurstofvlakke is laag. Wanneer sy haar bewussyn herwin, is sy bleek en sy lyk heeltemal verward.”

Dokters het die moontlikheid van posturale ortostatiese tagikardie-sindroom (Pots) genoem, maar toe Anneke die simptome navors, het dit nie heeltemal met Linke se toestand ooreengestem nie.

“In hierdie stadium is die oorsaak van die floutes nog onduidelik; daarom is dit belangrik vir Linke om dr. David Andrew Kleock, ’n pediatriese kardioloog in Alberton, te spreek,” sê Anneke. Kleock is ook ’n professor aan Wits en spesialiseer in gevalle soos Linke s’n.


“Vir eers moet ons haar net by die dokter kry sodat ons antwoorde op ons 600 vrae kan kry. Dit is skrikwekkend vir enige ma as jou kind deur so iets gaan en jy weet nie wat dit is nie,” vertel Kruger.

“Ek glo dis beter om te weet eerder as om te wonder, sodat ons dit kan aanspreek. Ek vertrou op die Here se genade, dat ons antwoorde sal kry en haar sal kan help.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.