Central SA
Potchefstroom: Woef Trompie se gelukkige nuwe tuiste─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:59 Mon, 02 Sep 2024
“Trompie was in ’n verskriklike toestand, baie deurmekaar en baie bang. Hy was eintlik leweloos.”
Skaars drie maande gelede was Trompie net vel en been toe sy lewe aan ’n draadjie gehang het, maar nou floreer hy in ’n omgewing waar hy geliefd is.
Toe ’n plaaslike vrywilliger in Mei vir Annelize van der Westhuizen, senior gebiedsbestuurder vir Paws in Suid-Gauteng, en haar man, Willem, bel oor ’n hond wat langs die pad naby Potchefstroom gevind is, het sy onmiddellik ingestem om hom te gaan haal.
“Ek was kwaad en hartseer dat iemand ’n troeteldier in so ’n toestand kon los,” sê Annelize. “My eerste woorde aan my man was: Ek dink nie hy gaan dit vanaand maak nie.

Annelize en Willem van der Westhuizen het Trompie 'n tweede kans gegee. Foto verskaf
“Trompie was in ’n verskriklike toestand, baie deurmekaar en baie bang. Hy was eintlik leweloos.”
Ten spyte van sy situasie het Annelize besluit om nie moed op te gee met Trompie nie. Hulle het hom huis toe geneem, hom gebad en hom kos, water en ’n warm bed gegee. “Hy het geen energie of krag gehad nie en het die meeste van die tyd net gelê. Ek en my man het elke twee uur opgestaan om seker te maak hy is warm en neem genoeg vloeistof in.”

Trompie is langs ’n pad in Potchefstroom gevind. Foto verskaf
Annelize sê Trompie was aanvanklik bang vir haar ander honde en het agter ’n glasdeur vir hulle gegrom. “Met tyd en geduld het hy hulle egter begin vertrou en geleidelik met hulle begin meng.
“Hy het ’n sagte persoonlikheid en geniet dit om met die ander honde te speel. Hy het ’n groot deel van ons gesin geword.”

Trompie was net vel en been. Foto verskaf
Sedert hulle in 2018 as vrywilligers by Paws begin het, het Annelize en haar man ’n sagte plek ontwikkel vir ouer en siek diere wat nie sommer aangeneem word nie.
“Trompie se geval was veral uitdagend. Dit was ons eerste groot en moeilikste uitdaging,” vertel sy. “Net om hom te kon deurtrek en hom nog ’n kans op die lewe te gee – om hom te wys wat liefde is en waar hy veilig kan voel – was ongelooflik lonend.”
Hy het vining in die publiek se hart ingekruip. Hul reaksie op Trompie se herstel was oorweldigend positief. “Skenkings het sy reis ondersteun en sy transformasie was ongelooflik.”

Trompie is nou in 'n liefdevolle huis. Foto verskaf
“Hy het 7 kg aangesit vandat ons hom gekry het. Daar’s nog ’n paar trappe om te klim, maar elke dag word hy beter en beter. Hy lyk baie mooi, en jy sal nie sê dit is dieselfde hond wat langs die pad gelê het nie.
“Ons wil seker maak dat Trompie nooit weer sulke trauma hoef te beleef nie. Hy het sy ‘vir altyd’-tuiste by ons gevind.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
