Central SA
Geliefde seun (10) van Bloemfontein Vrydag gegroet ná hartstilstand─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:42 Tue, 10 Sep 2024
“Volgens die dokters is hy tussen 12:00 en 13:00 dood, maar ek en Willie glo hy is dalk ’n paar dae vroeër oorlede.”
’n Bedroefde ma van Bloemfontein vra mense om asseblief aan te hou bid vir hul gesin nadat hul geliefde seun gesterf het, ’n week nadat hy ’n hartstilstand gehad het.
Naasbestaandes en vriende neem Vrydag afskeid van Neil Shaw, ’n gr. 4-leerder aan die Laerskool Willem Postma. Hy is Saterdag (7/9) oorlede. “Volgens die dokters is hy tussen 12:00 en 13:00 dood, maar ek en Willie glo hy is dalk ’n paar dae vroeër oorlede,” sê sy ma, Lerie Shaw.
Neil het die TV-uitsending van die kragmeting tussen die Springbokke en die All Blacks tuis saam met sy gesin in Bloemfontein begin kyk. Net tien minute ná die afskop het sy hart gaan staan.
Sy ouers het met hom na die Emoyamed-hospitaal by Woodland Hills gehaas. Nadat hy gestabiliseer is, is hy na die Mediclinic in Bloemfontein oorgeplaas. Hy was in ’n kritieke toestand in die pediatriese waakeenheid.

Die Shaw-gesin. Foto: Facebook
Neil het Woensdagoggend (4/9) ’n tydelike pasaangeër gekry om sy hartritme te reguleer nadat hy die vorige nag ’n tweede hartstilstand ervaar het. Volgens Lerie het die dokters vroeër die week Lang QT-sindroom (LQTS*) by hom gediagnoseer, ’n toestand wat onreëlmatige hartritmes kan veroorsaak en tot onder meer ’n hartstilstand kan lei.
Neil is onder verdowing gehou en sou na die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad oorgeplaas word vir behandeling en operasies om sy hartritme op lang termyn te stabiliseer. Lerie meen Neil se hart het skade opgedoen weens die elektriese skokke wat toegedien is om sy hartritme te herstel, wat na bewering eindelik tot sy dood gelei het.

“Dit is vir my en my man, Willie, ongelooflik moeilik om te begryp hoe ’n gemeenskap bymekaar gekom het om ons met soveel liefde en gebed te omhels vir ’n seun wat nie eens hul eie was nie,” sê Lerie.
Neil word oorleef deur sy ouers asook sy drie broers, Liam in gr.6 en die tweeling Hein en Henry, wat in gr. 2 is.

Foto: Facebook
“Neil, jy het nie net diep spore in Willem Postma getrap nie,” lui ’n Facebook-inskrywing van die skool, “maar jy het werklik ’n positiewe impak op almal om jou gehad. Ons hart is seer, maar ons weet dat jy nou aan Jesus se voete sit.”
Die skool vra dat die gesin se privaatheid in dié moeilike tyd gerespekteer word. Neil word Vrydag (13/9) om 13:00 by die Laerskool Willem Postma se skoolsaal gegroet.
*LQTS is ’n toestand wat die herpolarisasie (ontspanning) van die hart ná ’n hartklop beïnvloed. Dit kan lei tot ’n verhoogde risiko van ’n onreëlmatige hartklop wat kan lei tot floute, verlies van bewussyn (sinkope); of selfs skielike dood.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cg
