On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Ramaphosa bekragtig Bela-wetsontwerp, sekere klousules oop vir bespreking

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:50 Fri, 13 Sep 2024

Ramaphosa bekragtig Bela-wetsontwerp, sekere klousules oop vir bespreking | News Article
Foto: Wikimedia

“Ons stryd is nie teen ’n wet nie, maar vir die toekoms van ons skole en ons kinders.”

Hoewel die omstrede Bela-wetsontwerp Vrydag (13/9) onderteken is, sal sekere dele van die wet nie onmiddellik in werking tree nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette tydens ’n seremonie in die Uniegebou in Pretoria bekragtig, al is klousules 4 en 5 tydelike opgeskort weens besware uit die gelede van sy eenheidsregering (RNE).

Dié gedeeltes bepaal dat hoofde van provinsiale onderwysdepartemente die laaste woord sal hê oor skole se toelating- en taalbeleid. Tog het die DA sy prokureurs opdrag gegee om voor te berei vir hofaksie oor die prosedurele aspekte wat gelei het tot die aanvaarding van Bela sowel as en die inhoud daarvan op grondwetlike gronde, sê DA-leier John Steenhuisen.

‘Die besluit is ook deur die VF Plus verwelkom’

Drie instelling van die Solidariteit Beweging – AfriForum, die vakbond Solidariteit en die Skoleondersteuningsentrum – beskou die besluit om die implementering van dié klousules te vertraag en dit vir verdere bespreking oop te stel as ’n oorwinning vir Afrikaanssprekendes.

Die besluit is ook deur die VF Plus verwelkom. Dr. Pieter Groenewald, partyleier, sê hulle het vandeesweek in gesprekke met die president hul posisie in die RNE (regering van nasionale eenheid) gebruik om hul teenkanting teen Bela uit te spreek.

Die party sal die volgende drie maande sy invloed gebruik om die gewraakte bepalings wat moedertaalonderrig betref, reg te stel in belang van almal.

‘Indien partye nie kan ooreenkom nie, sal die wetsontwerp geïmplementeer word’

“Aangesien die gevaar wat die wet inhou, nie ten volle afgeweer is nie, skep dit ruimte vir verdere bespreking,” sê Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum. “Hoewel AfriForum, Solidariteit en SOS se regspan bereid bly om die wetsontwerp in die hof te betwis, is dit onwaarskynlik dat hierdie gesprek tot oplossing sal lei.”

Tydens die seremonie het Ramaphosa gesê indien die partye nie kan ooreenkom oor ’n benadering nie, sal die wetsontwerp in sy geheel geïmplementeer word.

Steenhuisen verwerp egter hierdie dreigement deur die president. So ’n benadering weerspreek die RNE se beginsel van “voldoende konsensus” oor omstrede sake.

‘Dit sal ’n daad van aggressie teen die Afrikaanse gemeenskap wees’

“Die reg op moedertaalonderrig in Suid-Afrika is ’n beduidende kwessie, veral in die lig daarvan dat Afrikaansmediumskole minder as 5% van skole uitmaak. Die omskakeling van hierdie skole na dubbel- of Engelsmedium sal nie die gehalte van onderwys verbeter nie,” sê Steenhuisen.

Volgens Bailey sal daardie klousules van Bela, indien dit geïmplementeer word, verwoestende gevolge vir Afrikaanse skole en kinders hê. AfriForum bly egter bereid om hulle op alle moontlike nasionale en internasionale platforms teen te staan.

“As dit geïmplementeer word, sal dit ’n daad van aggressie teen die Afrikaanse gemeenskap wees wat nie net die 1994-skikking skend nie, maar ook die gees van die RNE.”

‘Ons stryd is vir die toekoms van ons skole en ons kinders’

As die klousules nie geskrap of verander word nie, sal hulle voortgaan met ’n hofgeding, sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit. “Ons sal aanhou druk. “Ons stryd is nie teen ’n wet nie, maar vir die toekoms van ons skole en ons kinders.”

Leon Fourie, uitvoerende hoof van SOS, meen die staat mag nie toegelaat word om Afrikaanse skole te kaap omdat die owerheid nie sy verpligting nakom om voldoende skole te bou nie.

Steenhuisen stem saam: Die ANC moet ophou om grondwetlike regte te skend en hom liewer daarop toespits om die groot gros sukkelende Engelsmediumskole te verbeter. “As die president werklik moedertaalonderrig wil beskerm, is die vertraging van drie maande in die implementering van klousules 4 en 5 van die wetsontwerp ’n positiewe stap.

‘Die wet sal tot onnodige onsekerheid en dispute lei’

“As dit egter bloot ’n vertraging is om opposisie te paai voordat die klousules weer ingestel word, sal ons aanhou om die wetsontwerp kragtig uit te daag, insluitend deur regstappe.”

Groenewald meen die wetsontwerp is oorhaastig voor die verkiesing deur die parlementêre proses gejaag. Die feit dat elektroniese onderwysmodelle glad nie eens genoem word nie, maak dit uit die staanspoor verouderd.

“Die wet sal tot onnodige onsekerheid en dispute lei oor reeds duidelik vasgestelde regte en verpligtinge rakende basiese onderwys.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.