Central SA
Klerksdorp-aanranding: Verdagte pleit onskuldig, verhoor begin in 2025─── HEIDRÈ MALGAS 13:15 Thu, 26 Sep 2024

“Botha het ’n tweede slagoffer, die Klerksdorpse sakeman PW Roos, na bewering ook bewusteloos geslaan toe hy wou ingryp.”
Die verdagte in ’n moord wat voortspruit uit ’n ernstige aanranding in ’n Klerksdorpse parkeerterrein, word einde Januarie 2025 verhoor.
Wernich Botha het Donderdag (26/9) vlugtig voorgekom in die Klerksdorpse streekhof, toe die hof besluit het om sy verhoor te skeduleer vir 26 tot 31 Januarie 2025. Die verdediging het die datums so aanvaar.
“Die hof het die aanklagte aan hom voorgehou en gevra hoe hy pleit op albei aanklagte: een van moord op Hilton Pretorius en een van poging tot moord. Botha het geantwoord dat hy onskuldig pleit op albei aanklagte,” sê Linda Mey, wie se seun Hilton Pretorius (32) 18 dae ná die aanranding in September verlede jaar in Doringkruin aan sy beserings beswyk het.
Wernich Botha is van die moord op Hilton Pretorius aangekla. Foto Facebook
Pretorius was in ’n geïnduseerde koma en aan ’n ventilator gekoppel nadat sy skedel tydens die aanranding gekraak is en tot bloeding op die brein gelei het.
Botha (toe 33) is kort ná die voorval in hegtenis geneem op aanklagte van poging tot moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer, wat later verander is na moord.
OFM Nuus het voorheen berig videomateriaal van die skokvoorval – na bewering die gevolg van ’n liefdesdriehoek tussen Botha, sy meisie, Natasha Fischer, en Pretorius – is wyd op sosiale media versprei.
Dodelike liefdesdriehoek? Hilton Pretorius en Natasha Fischer. Foto: Facebook
In een video kan gesien word hoe ’n rooikop, wat in verskeie mediaberigte geïdentifiseer is as Botha se vriendin, Fischer, na ’n blou Toyota Land Cruiser hardloop. ’n Man in swart, wat as Botha geïdentifiseer is, klim uit die voertuig en stap dan doelgerig na ’n ander man (Pretorius).
Hy dien Pretorius ’n kragtige hou toe, waarna Pretorius op die grond val waar hy bewusteloos lê en bloei. Botha het na bewering ook die tweede slagoffer, die Klerksdorpse sakeman PW Roos, bewusteloos geslaan toe hy probeer ingryp.