Central SA
12 wenke om ’n kruideniersbegroting te krimp─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:00 Fri, 25 Oct 2024

Die aanskaf van kruideniersware kan maklik een van die grootste enkele inskrywings van jou maandelikse begroting word.
Strategiese beplanning kan egter aansienlike besparings teweeg bring sonder om gehalte in te boet, berig Estate Living.
Hier is 12 wenke van Debt Restruct om inkopiekoste laag te hou.
1. ’n Kruidenierswarebegroting en -plan
Begin deur alles neer te skryf wat jy gewoonlik in ’n maand gebruik en hoeveel dit kos. Identifiseer dan die items waarop jy minder kan spandeer of waar jy produkte van goedkoper handelsmerke kan oorweeg.
2. Gebruik ’n aparte kruidenierskaart
Wanneer jy jou begrotingslimiet vir kruideniersware bereik, sal dit help om dit wat jy het te gebruik. Dit moedig dissipline in jou besteding aan en help daarmee om deurdagte keuses te maak.
Stel ’n begrotingslimiet vir kruideniersware. Foto: iStock
3. Hou by dit wat werklik nodig is
Wanneer jy inkopies doen, fokus op die aankoop van slegs noodsaaklike items. Vermy luukse en onnodige produkte. Voordat jy betaal, neem ’n oomblik om alle items wat nie noodsaaklik is nie, uit jou trollie te haal.
4. Koop slegs een keer per maand
Oorweeg dit om inkopies tot een keer per maand te beperk vir nie-bederfbare noodsaaklikhede, terwyl jy varsprodukte weekliks koop soos nodig.
5. Koop in die middel van die maand
Slaan munt uit middel-van-die-maand-winskopies. Dis dan wanneer kruidenierswinkels pryse dikwels verlaag om verkope te stimuleer. Boonop is dit makliker om sinvolle koopbesluite te neem wanneer daar minder klante in ‘n winkel is.
Kruidenierswinkels verminder pryse dikwels in die middel van ’n maand. Foto: iStock
6. Wees op die uitkyk vir spesiale aanbiedinge en maak gebruik van beloningskaarte
Baie kruidenierswinkels het ‘n beloningsplan wat jou kan help om geld te bespaar. Programme soos Pick n Pay se Smart Shopper of Checkers se Xtra Rewards bied afslag en punte, wat afslag of waardetoevoeging behels.
7. Koop in grootmaat
Grootmaataankope lei dikwels tot laer koste per eenheid.
Koop in grootmaat. Foto iStock
8. Moet nooit honger winkel toe gaan nie
Inkopies op ’n leë maag kan impulsiewe aankope en swak keuses tot gevolg hê. Eet altyd voordat jy winkel toe gaan om selfbeheersing makliker te maak en streng by jou inkopielys te hou.
9. Vleisvrye dae
Oorweeg dit om vleisvrye maaltye in jou weeklikse eetplan in te sluit. Dit bevoordeel nie net jou bankbalans nie, maar bevorder ook gesonder eetgewoontes, en is meer omgewingsvriendelik. Gebruik ingemaakte goedere of ander bekostigbare plaasvervangers om heerlike vleislose disse op te tower.
10. Aanlyn-inkopies
Met stygende brandstofpryse kan dit meer ekonomies wees om kruideniersware aanlyn te bestel en vir aflewering te betaal, eerder as om winkel toe te ry. Aanlyn-inkopies verminder versoekings en moedig beter beplanning aan. Die geneigdheid om onnodige items te koop bly ook makliker in toom.
Koop aanlyn. Foto iStock
11. Maaltydbeplanning: Koop net wat jy nodig het
Stel ’n weeklikse maaltydplan op om presies te weet watter bestanddele jy benodig. Skryf die resepbestanddele neer en skrap dan alle items wat jy reeds in die huis het.
12. Geennaam-produkte
Geennaam-produkte is in baie gevalle die mees bekostigbare keuse op die winkelrak. Hierdie produkte kom dikwels van dieselfde vervaardiger van handelsnaam-produkte, maar sonder die bykomende bemarkingskoste waarvoor die verbruiker eindelik help betaal.
Koop geennaam-produkte. Foto iStock