Central SA
Piet Els-moord: Beskuldigdes dan gevonnis─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:48 Tue, 29 Oct 2024

Die sewe beskuldigdes in die moord op ’n sakeman van Kimberley word na verwagting in Januarie gevonnis.
Die sewetal het verlede week in die hooggeregshof in die Noord-Kaapse hoofstad verskyn, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder.
Piet Els (86), ’n diamantsakeman, en sy meisie, Rikkie Alsemgeest (toe 68), is op 24 Januarie 2018 wreed aangeval in die hoofslaapkamer van Els se plaashuis. Albei slagoffers is met ’n strykyster gebrand.
Els het 111 dae ná die aanval in die hospitaal aan sy beserings beswyk, terwyl Alsemgeest veelvuldige beserings opgedoen het.
‘Huisbraak, aanranding, moord en twee aanklagte van die onwettige besit van wapens’
Tydens die beskuldigdes se hofverskyning in Augustus is die verrigtinge ontwrig toe Samson Mbokane (63) siek geword het en ’n ambulans ontbied is.
Mbokane (van Mbombela), Jabulani Zuma (62, van Mtubatuba), Morapeli Rankali (28) en Motlalentwa Qhautse (37. albei van Lesotho), Lizbeth Ndlala (56) en haar man, Themba Lawrence Maja (68), saam met Oupa Jeffrey Mahomane (44, almal van Pienaar in Mpumalanga) staan tereg op aanklagte van huisbraak, aanranding, moord en twee aanklagte van die onwettige besit van ’n 7,65 mm Walther-pistool en ’n .30-30-Winchester-geweer.
Toe die saak verlede maande hervat is, het die staat sy betoog gelewer dat die beskuldigdes uit drie afsonderlike groepe bestaan.
Die beskuldigdes in die hof in Kimberley. Foto: DFA
OFM Nuus het vroeër berig Zuma, blykbaar een van oudpres. Jacob Zuma se seuns, het na bewering in Januarie 2018 van sy huis in KwaZulu-Natal na Mbombela gery. Daar het hy vier medebeskuldigdes opgelaai en Kimberley toe gery, waar hulle na die huis van Amos Ralihlare, ’n tradisionele geneser is.
Drie Sothosprekendes het op daardie stadium by hulle aangesluit. Die groep van Mpumalanga het glo voorberei om ’n ritueel uit te voer.
Daarna is vier mans na Els se plaas, waar hulle die egpaar aangerand en horlosies, Krugerrande en diamante gesteel het. Die verdagtes het ontsnap met Els se wit Mercedes-Benz, wat later verlate op die R31 by Phuthanang buite Kimberley aangetref is.