On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Munisipale werkers stort glo afval onwettig op De Aar

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:08 Wed, 30 Oct 2024

Munisipale werkers stort glo afval onwettig op De Aar | News Article
Foto verskaf

’n Klag is by die Groen Skerpioene ingedien teen Noord-Kaapse munisipale werkers wat hulle glo skuldig maak aan onwettige afvalstorting.

Werkers van die Emthanjeni is glo Dinsdag (29/10) betrap waar hulle na bewering afval op drie plekke op De Aar gestort het, sê dr. Wynand Boshoff, Noord-Kaapse VF Plus-leier, blykbaar in opdrag van amptenare. 

Wilhelm Reichert, ’n Noord-Kaapse partyorganiseerder, het die storting gesien terwyl hy ’n vorige klagte opgevolg het oor ’n rioolpyp wat van die rioolplaas ontkoppel is. Dit het onbehandelde riool in ’n sloot na ’n nabygeleë pan laat vloei.

Foto verskaf

Volgens Reichert het die onwettige storting kort voor en ná kantoorure plaasgevind. “In een geval het ’n tenkvragmotor, wat septiese tenks gepomp het, sy inhoud in ’n sloot in die veld gestort.

“’n Werker, wat anoniem wil bly, het gesê hy het opdrag gekry om dit daar te stort,” maar hy het geweier om te sê nie.


“Kort daarna het ’n ander vragmotor omgedraai nadat hy die VF Plus-voertuig opgemerk het. By navraag het hy gesê die persoon wat hom moes gewys het waar om die afval te stort, was nie daar nie.”

In ’n derde voorval was ’n laaigraafoperateur besig om ’n gat te grawe waarin weggedoen is met verouderde chemiese produkte van ’n supermark. “Volgens die operateur (was dit om) te verhoed dat kinders die produkte op die stortingsterrein ontdek en dit moontlik gebruik,” sê Reichert.

Foto verskaf

Intussen waarsku die munisipaliteit inwoners moet om veiligheidsredes hul drinkwater kook.

Reichert sê inwoners van De Aar is dikwels periodes sonder lopende water en dit lyk of daar ’n waarskynlike verband tussen die rioolstorting en die besoedeling van grondwater is.

Volgens Reichert is die watermonsters intussen na ’n onafhanklike laboratorium gestuur vir toetsing vir verskeie patogene.

Foto verskaf

OFM Nuus het Emthanjeni om kommentaar genader.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.