Central SA
Welkom-waterkrisis duur glo voort ondanks herstelwerk aan lekkasie─── HEIDRÈ MALGAS 15:00 Thu, 31 Oct 2024
Herstelwerk is klaar nadat Matjhabeng ’n waarskuwing uitgereik het dat ’n span van die Vaal-Sentraal-water besig is om ’n beduidende lekkasie in die Saaiplaas/Welkom-pypleiding te herstel.
“Bronville en dele van Welkom se water sal geleidelik vrygestel word om te monitor of daar enige bykomende lekkasies is, sodat sommige gebiede water kan begin ontvang," sê die munisipaliteit en beloof om inwoners op die hoogte te hou van vordering met die herstelwerk.
Intussen sê René Steyn, DA-raadslid in Matjhabeng, dat dié Goudveldse plaaslike owerheid te kampe het met ’n ernstige waterkrisis, ten spyte van ’n hooggeregshofbevel wat die waterraad verbied om waterbeperkings in te stel.
Inwoners se watertoevoer word selfs 08:30 al toegedraai, benewens beplande wateronderbrekings oornag van 17:00 tot 05:00. Dit beteken talle inwoners het net drie tot vier uur per dag toegang tot water, maar dikwels is die straaltjie so flou, dis byna onmoontlik om geysers te vul of wasgoed te was.
Die waterpyp wat herstel is. Foto: Facebook/Matjhabeng plaaslike munisipaliteit
Dis onmoontlik om so te leef en basiese higiëne te handhaaf met so ’n beperkte toegang tot water, sê Steyn.
Die DA het die LUR vir water en sanitasie genader, wat belowe het om in te gryp, maar geen betekenisvolle stappe is nog gedoen om die krisis die hoof te bied nie.
“Inwoners se frustrasie neem toe terwyl baie Matjhabeng-inwoners oorweeg om betalings vir dienste te weerhou omdat die munisipaliteit versuim om toegang tot water te verseker – ’n fundamentele mensereg,” sê Steyn.
Die DA wil ’n amptelike klagte indien teen Matjhabeng en Vaal-Sentraal-waterraad by die Menseregtekommissie. Foto: Facebook/Matjhabeng plaaslike munisipaliteit
Boonop wend hulle hulle tot sosiale media om hul bekommernisse te verwoord.
- “Die waterprobleme word net nie minder nie!” skryf Wynand van Schalkwyk. “Hoe lank gaan dit neem? Daardie pomp is nie voldoende nie.”
- Lisa Steenberg sê: “Ons wil water hê. Dit is maande al in Dagbreek, en steeds geen water. Ons betaal aanhoudend, waarvoor? Sodat Matjhabeng meer kan steel.”
- Susan Stoltz is ewe ontevrede: “Die waterprobleme hou net nie op in Odendaalsrus nie; maande lank is die druk swak.”
Weens die erns van die situasie en die gemeenskap wat daaronder ly, wil die DA ’n amptelike klagte indien teen Matjhabeng en Vaal-Sentraal-waterraad by die Menseregtekommissie.
OFM Nuus cg