Central SA
Meer as 200 onwettige myners in Noordwes boontoe gedwing, aankeer─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:16 Sun, 03 Nov 2024
Meer as 200 onwettige ondergrondse mynwerkers is die naweek in Noordwes aangekeer nadat hulle weens honger en dors gedwing is om uit hul skuilplek te kom.
Die Vala Umgodi-taakmag in Noordwes word geloof vir die inhegtenisneming van 225 onwettige mynwerkers by Orkney, sê brig. Sabata Mokgwaabone, polisiewoordvoerder.
“Hierdie mynwerkers tel onder honderde, indien nie duisende, ander wat ondergronds vasgevang geraak het sonder toegang tot kos, water of basiese benodigdhede.”
Polisiebeamptes en soldate het die afgelope week suksesvol verhinder dat mense in verlate mynskagte by Orkney kospakkies en ander voorrade aan hierdie onwettige mynwerkers voorsien. As hulp hulle kon bereik het, sou dit die staat se gesag ondermyn het.
Die polisie het die myners uit hul skuiling gedwing deur hul voorrade af te sny. Foto: SAPD
Die operasie hou egter nie hier op nie. Polisie beamptes en soldate van die SANW sal die verlate mynskagte deurlopend dophou vir nog onwettige mynwerkers wat kan opduik, sê lt.genl. Shadrack Sibiya, adjunkkommissaris van die polisie. “Ons sal nie rus totdat alle onwettige mynwerkers aangekeer is nie.”
Altesaam 225 onwettige mynwerkers is aangekeer. Foto: SAPD
Sedert Desember verlede jaar is meer as 13 691 verdagtes in hegtenis geneem in sewe provinsies wat geïdentifiseer is as brandpunte vir onwettige mynbou. “Ons het beslag gelê op R5 miljoen kontant en ongeslypte diamante van R32 miljoen deur Operasie Vala Umgodi,” sê Sibiya.
Die verdagtes wat aangekeer is, is meestal Suid-Afrikaners, Mosambiekers en burgers van Lesotho.