Central SA
Twee in Noordwes-hof vir besit van R560 000 se onwettige sigarette─── CHARNÉ VAN DER MERWE 06:30 Mon, 04 Nov 2024
Twee verdagtes, wat Saterdag (2/11) op borgtog vrygelaat is vir die besit van meer as 40 bokse onwettige sigarette, sal weer Maandag in die hof verskyn.
Die Chinese burger, Huan Chen (37), en sy medepligtige, Tshepo Lehokwa (22), het Vrydag (1/11) hul eerste verskyning voor die Mmabatho-landdroshof gemaak toe die saak uitgestel is tot Saterdag (2/11), sê kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder.
Chen en Lehokwa is Woensdag in hegtenis geneem nadat 40 bokse sigarette ter waarde van meer as R500 000 in hul besit gevind is.
Ottoshoop se eenheid vir sigbare polisiëring, doeanebeamptes, Mahikeng se direktoraat prioriteitsmisdaadondersoek en plaaslike mnisdaadsentrum het die twee aangekeer nadat die span op inligting oor die vermoedelike handel in onwettige sigarette gereageer het.
“Volgens inligting wat ontvang het, is die verdagtes se wit Mercedes Benz Sprinter op die R49 tussen Mahikeng en Ottoshoop opgespoor, waar die voertuig naby ’n brug voorgekeer is. Die motor sowel as sy twee insittendes is deursoek,” sê Myburgh.
Die polisie het 40 bokse sigarette in die voertuig gevind. Foto: SAPD
Tydens die deursoeking het die span op 40 kartondose Remington Gold-sigarette met ’n geraamde waarde van R560 000 afgekom. Die insittendes is in hegtenis geneem nadat hulle nie kon verklaar waar hulle aan die sigarette gekom het nie.
Chen is op borgtog van R15 000 vrygelaat en Lehokwa van R500.
In ‘n afsonderlike voorval sal twee verdagtes van Bloemfontein wat laat verlede week vir verskeie oortredings in hegtenis geneem is, Maandag (4/11) in die plaaslike landdroshof verskyn.
Die verdagtes (19 en 23) is Vrydag (2/11) in die Bloemfonteinse middestad vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en dwelmhandel in hegtenis geneem, sê sers. Sinah Mpakane, polisiewoordvoerder.
“Lede van Peloton 10 het Vrydag 1 November misdaadvoorkomingspligte in die Bloemspruit-omgewing uitgevoer toe hulle omstreeks 01:00 ’n wenk kry oor ’n Toyota Yaris wat gebruik is rooftogte in ’n straatjie in die middestad,” sê Mpakane.
Beamptes het toe die twee mans voorgekeer wat verdink word van dwelmhandel. “Tydens die deursoeking het hulle dwelms, ’n ongelisensieerde vuurwapen en kontant gekry wat vermoedelik die opbrengs van dwelmverkope is.”
Hulle het op al die bewysstukke beslag gelê vir gebruik in die hof.
OFM Nuus mc