Central SA
Limpopo-polisie maak deurbraak teen onwettige mynbou─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:39 Wed, 20 Nov 2024
Die polisie in Limpopo hoop die inhegtenisneming van vier vermeende onwettige myners sal daartoe bydra om dié misdaad hok te slaan.
In ’n groot deurbraak teen onwettige mynbedrywighede is vier verdagtes, onder wie twee buitelanders, Maandag (18/11) aangekeer vir die besit van gesteelde minerale en onwettige myntoerusting, sê kol. Malesela Ledwaba, Limpopo-polisiewoordvoerder.
Hulle is in die Ga Mathabatha Mabowe-park, sowat 55 km suidoos van Polokwane, vasgetrek ná volgehoue pogings om die toenemende probleem van onwettige mynbedrywighede in die provinsie te bekamp. Die vier sal binnekort in die hof verskyn.
Volgens Ledwaba het die polisie ’n wenk ontvang oor ’n wit Volvo-vragmotor met Gautengse nommerplate wat na bewering gebruik is om chroom onwettig in die reservaat op laai. “Op pad na die toneel het die beamptes die verdagte voertuig opgemerk wat op pad uit die gebied was in die rigting van die Leporogong-kruising op die R37.”

Foto: iStock
Die bestuurder het weggejaag met die polisie agterna. “Die agtervolging het voortgeduur totdat die vragmotor die Mashite-kruising bereik het, waar die polisie die twee verdagtes (34 en 52) aangekeer het.”
Die polisie het op pad na Lebowakgomo ’n verdagte silwer Nissan-bakkie opgemerk wat langs die pad geparkeer was met twee insittendes, sê Ledwaba. “Die polisie het die bakkie deursoek en afgekom op onwettige mynbougereedskap en R40 000 kontant.”
Verskyn binnekort in die hof
Toe die verdagtes nie kon verklaar waar die toerusting en geld vandaan kom nie, is hulle in hegtenis geneem is op aanklagte van die besit van onwettige gereedskap en vermoedelik gesteelde goedere.
Ledwabe sê nadere ondersoek het aan die lig gebring dat die Nissan-bakkie die wit vragmotor begelei het om die gesteelde minerale te vervoer. “Beamptes het beslag gelê op die vragmotor sowel as die Nissan-bakkie, saam met die chroom.”
Die vier verdagtes – wat teregstaan op aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde minerale en onwettige myngereedskap – sal binnekort in die Lebowakgomo-landdroshof verskyn.
