Central SA
Verdagte weer weens veediefstal in Ficksburg in hegtenis geneem─── CHARNÉ VAN DER MERWE 07:00 Thu, 21 Nov 2024

’n Vrystater, wat voorheen ook met die gereg gebots het weens veediefstal, sal na verwagting Donderdag (21/11) in die hof verskyn.
Die verdagte (47) is Woensdag by Ficksburg in hegtenis geneem, sê lt.kol. Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
Polisiebeamptes en soldate het verskeie operasionele strategieë in die grensgebiede rondom Ficksburg uitgevoer toe die verdagte met 20 vermoedelik gesteelde vee betrap is. Volgens Covane het die polisie by ’n voertuigkontrolepunt op die R26 provinsiale pad ’n wit Toyota Hino-vragmotor vir inspeksie voorgekeer.
Die beamptes het die papierwerk en die veevrag nagegaan.
‘Die diere – meestal bonsmaras – het verskillende brandmerke gehad’
“Tydens die inspeksie is ontdek dat die diere – meestal bonsmaras – verskillende brandmerke gehad het. Nadat Ladybrand se veediefstaleenheid ontbied is, het dit geblyk dat die vermeende eienaar ’n geskiedenis van soortgelyke oortredings het,” sê Covane.
Die bestuurder is in hegtenis geneem. Beamptes het beslag gelê op ’n bul en 19 koeie en hulle na ’n skut geneem.
’n Saak van besit van vermoedelik gesteelde vee is aanhangig gemaak.
Boere moet hul vee merk. Foto verskaf
Covane sê die misdaadbekamping-en-voorkomingsoperasies, wat deel is van die voortgesette samewerking tussen Operasie Vala en uMgodi-rolspelers, gaan voort in die Vrystaat.
Enigiemand wat beeste, skape, bokke of varke besit, moet hul vee merk, sê die regering.
- Die eienaar moet aansoek doen om ’n geregistreerde identifikasiemerk by die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling.
- ’n Diere-identifikasiemerk dui die eienaar van die dier aan. As die dier wegloop of gesteel en gevind word, word die merk gebruik om die eienaar op te spoor.
- ’n Identifikasiemerk bestaan uit nie meer nie as drie letters van die alfabet of simbole (karakters).
Die merk bestaan uit nie meer nie as drie letters of simbole. Foto verskaf
- Permanente identifikasiemerke kan op die diere aangebring word deur middel van warmbrandmerking, vriesbrandmerking of tatoeëring.
- As jy diere aankoop of hulle as ’n geskenk ontvang, moet jy binne twee weke ’n identifikasiemerk op hulle aanbring. As jy diere verkoop, moet hulle ook jou identifikasiemerk dra.
- Jou merk word op die Nasionale Register van die Diere-identifikasiestelsel (AIS) geplaas en niemand anders mag dit gebruik of jou diere daarmee merk sonder jou toestemming nie.
Identifikasiemerke moet geregistreer wees. Foto verskaf
Let wel: Jy mag nie ’n identifikasiemerk op jou diere aanbring indien jy nie sodanige identifikasiemerk geregistreer het nie.
OFM Nuus cg