On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Potchefstroom se Liggiefees beloof weer skitterende ervaring

───   KAREN VAN DER BERG 10:23 Fri, 29 Nov 2024

Potchefstroom se Liggiefees beloof weer skitterende ervaring | News Article
Die jaarlikse Liggiefees wat in Potchefstroom gehou word, beloof om soos gewoonlik mense te bekoor. Foto: Aldus Smith Fotografie

Die Liggiefees in Potchefstroom gebruik vanjaar ’n 75 km lange kragkabel vir die 62 224 liggies wat helder gaan skyn op dié fees.

Die jaarlike geleentheid beloof om oudergewoonte ’n besonderse ervaring te wees, sê Christie Saayman, hoof van die plaaslike Abraham Kriel-kinderhuis, wat dit aanbied.

Benewens die magdom liggies kan besoekers vanjaar ook uitsien na die langste liggietonnel in Afrika. ’n Ligprojeksie sal geboue boonop in kleur projekteer.

Johan Brummer, beter bekend as die kunstenaar Fatman, tree Saterdag (30/11) op. Hy sê dit is vir hom belangrik om deel te wees. “As ons nie na ons kinders se behoeftes omsien nie, wie gaan?

Die fees groei nog elke jaar. Foto: Aldus Smith Fotografie

“Kinders is belangrik. Ons moet almal na hulle omsien en saamstaan en help met kinders. Dis vir my belangrik.”

Die Liggiefees het in 2014 begin toe die kinderhuis se bestuur besef het hul staatsubsidie sal nie meer voldoende wees nie, vertel Saayman. “Ons het besluit om ons lieflike terrein in te span – en dit was die begin van die mooi fees.”

Die fees was uit die staanspoor suksesvol en groei nog elke jaar. “Ons is werklik dankbaar oor die seën van die Here af. Die Liggiefees beteken of ons die deure van die kinderhuis kan oophou of dit moet sluit.”

Die liggies is indrukwekkend. Foto: Aldus Smith Fotografie

Saayman vertel wat die fees verder merkwaardig maak, is die personeel se betrokkenheid. “Ons het die ongelooflikste personeel. Hulle vervaardig al die strukture en doen al die werk self.”

Al die geld wat ingesamel word, word aangewend vir die 230 kinders wat permanent in Abraham Kriel-kinderhuis woon.

“Ons lewensuitkyk is dat die kinders hier net die beste verdien. Ons doen alles in ons vermoë om dit vir hulle te gee.”

Daar is ook heelwat ander vermaak soos gaskunstenaars en ’n Kersmark. Foto: Aldus Smith Fotografie

Die kinders woon 20 verskillende skole in die omgewing by. Dis ’n “logistieke nagmerrie” om die vervoer te reël.

Hulle sorg ook nog vir die kinders wanneer hulle skool voltooi. “Ons het natuurlik, nes enige ander organisasie sonder winsoogmerk, geld en hulp nodig. Ons waardeer die betrokkenheid van die gemeenskap opreg.”

• Die Liggiefees vind daagliks van 18:00 tot 22:00 plaas van Vrydag (29/11) tot 31 Desember. Talle gaskunstenaars sal optree. Toegang kos R40. Besoek die fees se webtuiste vir nadere besonderhede.

OFM Nuus/Karen van der Berg cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.