On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Vonnisse vir Oos-Vrystaatse moordenaars verwelkom

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:18 Fri, 29 Nov 2024

Vonnisse vir Oos-Vrystaatse moordenaars verwelkom | News Article
Foto: Mike Pattinson/Facebook

Die VF Plus verwelkom die altesaam 205 jaar tronkstraf wat die beskuldigdes in die moord op ’n Oos-Vrystaatse boer opgelê is.

“Die uitstekende ondersoekwerk wat die polisie gedoen het, wat gelei het tot die vinnige inhegtenisneming van die vyf verdagtes die volgende dag, is veral prysenswaardig,” sê Jan van Niekerk, Vrystaatse VF Plus, ná uitspraak gelewer is in Michael Andrew Pattinson (65) se moordsaak.

“Hierdie deeglike poging het uiteindelik tot hul suksesvolle vervolging en tronkstraf gelei,” sê Van Niekerk.

‘Die voertuig is later met behulp van ’n opsporingstelsel opgespoor’

OFM Nuus het verlede jaar berig Pattinson, ’n boer van Summerslie naby Harrismith, se broer het hom op 24 Julie as vermis aangemeld. Pattinson se plaaswerkers het daardie oggend op sy beseerde hond afgekom. 

Sy voertuig was weg en daar was bloedvlekke sigbaar. Die verdagtes het Pattinson in die kattebak van sy eie Toyota Cruiser gedwing en hom na Qwaqwa geneem, waar hy wreed vermoor is, het kapt. Lorraine Earle, polisiewoordvoerder, gesê.

“Die voertuig is later met behulp van ’n opsporingstelsel naby ’n taverne in die nedersetting Tseseng opgespoor.”

Jan van Niekerk, Vrystaatse VF Plus-leier. Foto verskaf

Die verdagtes, wat in ’n nabygeleë kamer was, het gevlug toe die polisie opgedaag het. Die polisie het egter daarin geslaag om al sewe verdagtes, onder wie twee vroue, vas te trek.

Pattinson se liggaam is in dieselfde kamer gevind, en twee skootrekenaars en ’n kamera, wat as syne geëien is, is op die toneel gevind.

Teboho Mothebedi (22), Jabulane Ngcongwane (44), Bheki Maphalala (18), Lephosa Motaung (26) en Siyabonga Khumalo (22) is drie jaar tronkstraf opgelê vir huisbraak, twaalf vir roof met verswarende omstandighede, ses vir ontvoering en 20 vir die moord op Pattinson.

Landbounuus: Landbou-organisasie veroordeel moord op Vrystaatse boer | News Article

Mike Pattinson/Harriston School. Foto: Facebook

Die hof het beslis dat die vonnisse vir huisbraak en roof gelyklopend met die vonnisse vir ontvoering en moord sal loop, wat beteken elke oortreder sal 32 jaar agter tralies deurbring.

Van Niekerk sê hierdie saak bewys weereens as die polisie toegelaat word om te dien en te beskerm, sonder politieke inmenging en binne behoorlike dissiplinêre norme, dit wel moontlik is om plaasaanvallers of -moordenaars suksesvol te vervolg.

‘Suksesvolle vervolging behoort as ’n duidelike waarskuwing te dien’

“Te veel plaasaanvalle eindig nie in skuldigbevindings of vonnisse nie. Hierdie suksesvolle vervolging behoort as ’n duidelike waarskuwing aan misdadigers te dien dat hulle nie met plaasmoorde sal wegkom nie.”

Die VF Plus beloof om aan te hou veg vir verbeterde polisiëring en bykomende ondersteuning vir plaasgemeenskappe om beide veiligheid en geregtigheid te verseker.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.