On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Voedselregulasies weens sterftes in Noordwes ingestel

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:48 Fri, 29 Nov 2024

Voedselregulasies weens sterftes in Noordwes ingestel | News Article
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Alet Pretorius

In Noordwes het ’n distriksraad voor ’n politieke party se druk geswig en verordeninge goedgekeur wat spazawinkels en straathandelaars reguleer.

Kenneth Kaunda-distriksmunisipaliteit het dié raadsbesluit Donderdag (28/11) op ’n vergadering geneem ná volgehoue druk van die VF Plus sedert 2023, sê Mariska Oosthuizen, VF Plus-raadslid. 

“Die formalisering van hierdie verordeninge is vertraag weens onder meer die ANC-beheerde munisipaliteit se versuim om die nodige prosesse vir openbare deelname betyds te implementeer.”

Sy beklemtoon ook dat die VF Plus voortdurend daarop gewys het dat, veral vir kinders, die gebrek aan behoorlike regulering in die plaaslike voedselbedryf hulle aan onhigiëniese en onveilige kos blootgestel het.

Jaarlikse sertifiseringsproses

“Onlangse voorvalle van voedselvergiftiging in die Noordwes-streek het weereens die dringende behoefte aan behoorlike regulering onderstreep,” sê Oosthuizen. Hierdie regulasies sal ook na kleuterskole en dagsorgsentrums strek.

“In die toekoms sal kleinhandelaars in die voedselbedryf ’n jaarlikse sertifiseringsproses moet ondergaan, met fooie wat wissel van R465 tot R960 per jaar.”

Cyril Ramaphosa het op 15 November in die Uniegebou in Pretoria streng maatreëls teen spazawinkels in ongedokumenteerde buitelandse se besit aangekondig. Hy het gesê 22 kinders is in die voorafgaande weke dood is nadat hulle besmette voedsel geëet het.

‘Talle sterftes was weens kos wat in spazawinkels gekoop is’

OFM Nuus het voorheen berig sedert September is ongeveer 890 voorvalle van voedselverwante siektes in alle provinsies aangemeld.

Ramaphosa het verskeie onmiddellike ingrypings uiteengesit en gesê die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes het bevind talle sterftes was weens kos wat in spazawinkels en straatsmouse gekoop is.

Hy het dit egter duidelik gemaak die ingryping is nie net gemik op spazawinkels wat deur buitelanders of straatverkopers besit word nie. Hy het ook bewerings van doelbewuste vergiftiging verwerp en dit as verkeerde inligting genoem.

Voorgestelde regulasies

’n Paar van die verskeie voorgestelde regulasies en vereistes vir spazawinkels wat moontlik deur die regering oorweeg sal word:

  • Spazawinkels moet deur die plaaslike polisie gelisensieer wees.
  • Belastingregistrasie is verpligtend.
  • Operateurs moet oor geldige identifikasie beskik indien Suid-Afrikaans, of toepaslike visums en regsdokumente indien buitelands.
  • Buitelandse spazawinkeleienaars of buitelandse maatskappye moet by die Maatskappy- en Intellektuele Eiendomskommissie registreer.

‘Verbruikers moet geregtig wees op terugbetalings’

  • Die verkoop van goedere wat verval het in spazawinkels sal verbied word.
  • Die oordrag van produkte vanaf hul oorspronklike verpakking is streng verbode.
  • Spazawinkels mag nie gebruik word om te slaap of te was nie.
  • Spazawinkels moet hoë standaarde van netheid en higiëne handhaaf.
  • Verbruikers moet geregtig wees op terugbetalings indien hulle onveilige of gepeuter produkte koop.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.