Central SA
Vermeende bedrieër van Potchefstroom begin 2025 verhoor─── KAREN VAN DER BERG 06:30 Thu, 05 Dec 2024

Geregtigheid sal moontlik vroeg in die nuwe jaar kan geskied wanneer ’n vermeende bedrieër van Potchefstroom op aanklagte van bedrog en geldwassery verhoor word.
Ben Otto (69) se voorverhoorverrigtinge sal op 29 Januarie in die handelshof in Klerksdorp plaasvind, sê lt.kol. Tinyiko Mathebula, Noordwes-Valke-woordvoerder.
Otto is in September 2022 in hegtenis geneem, maar kort daarna op borgtog van R10 000 vrygelaat. Hy staan tereg op 69 aanklagte van bedrog en 31 van geldwassery.
Mathebula sê hy het mense landwyd na bewering uit meer as R20 miljoen bedrieg terwyl hy ’n piramideskema deur sy onderneming, RSA Search, bedryf het.
Ben Otto (middel) tydens ’n vorige hofverskyning. Foto: citizen.co.za/potchefstroom-herald
Potchefstroom Herald berig talle mense het miljoene rande in RSA Search belê. Kontrakte is met beleggers aangegaan dat hulle sou deel in die maatskappy se wins teen ’n koers van 2% of 3% per maand.
In meeste van die gevalle het die beleggers aanvanklik hulle maandelikse winsdeling van die maatskappy ontvang. Teen 2020 het hulle nie meer rente ontvang nie.
Teen dié tyd het Otto vir beleggers laat weet dat die maatskappy weens die staat van inperking noustrop trek en later dat die maatskappy gelikwideer sou word.
Otto ontken skuld op alle aanklagte.