Central SA
Carletonville-kleuter en ma in Pretoria vir intensiewe chemo─── ZENANDE MPAME 06:00 Fri, 06 Dec 2024
’n Kleuter van Carletonville met leukemie kry dié feestyd drie maal per week intensiewe chemo in Pretoria.
Damian Steyn (2) en sy ma Monique gaan bly deur die week in die hospitaal, maar probeer om naweke huis toe gaan as hul petrolgeld dit toelaat om gesinstyd deur te bring saam met pa Barry en sy boeties, Raiden (6) en Tristan (4).
Bloedkanker is in Julie by Damian gediagnoseer is, waarna hy en sy ma ook Pretoria toe moes gaan vir chemoterapie. Vanaf Maandag (2/12) is hulle terug in die Jakarandastad.
“Ons vaar goed onder die omstandighede. Ons het hierdie week met chemoterapie begin, en Maandag het hy ’n teenkankermiddel ontvang wat gebruik word in die behandeling van akute leukemie en langdrupchemoterapie,” vertel Monique.
“Die chemoterapie het ’n groot uitwerking op hom, want hy is meestal siek en amper altyd slaperig. Hy hy kry dikwels erge woede-uitbarstings as gevolg van die antibiotika wat hy neem.”
‘Hy het nog nie leer praat nie’
Monique beplan om klein Damian in Februarie na ’n hospitaal in Klerksdorp te neem vir nog toetse om lig te werp op sy spraak- en gehoorprobleem. Hy het nog nie leer praat nie weens ’n gat in sy trommelvlies. Sy ouers is ook nie seker hoeveel hy kan hoor nie.
OFM Nuus het vroeër berig ’n oor-en-neus-en-keelspesialis het gehoorverlies by Damian waargeneem, wat een van die redes kan wees waarom hy nog nie begin praat het nie.
Damian was langer as ses maande siek voor sy kankerdiagnose in Julie, waarna hy drie maande tuis behandel is met chemopille drie keer per week.
“In November het Damian begin om chemoterapie in sy ruggraat te ontvang, wat goed gegaan het, en is huis toe gestuur met pille om in te neem. Hy het newe-effekte van die chemoterapie begin ervaar, wat hom gefrustreer het en baie ongemak veroorsaak het,” sê Monique.
“Ons gaan die grootste deel van Desember in Pretoria deurbring sodat hy al sy chemoterapiesessies kan kry,” sê Monique.
Sy vra enige finansiële hulp om die ryery tussen Carletonville en Pretoria moontlik te maak. Diegene wat wil help, kan vir haar ’n e-pos stuur by mluies08@gmail.com.