Central SA
Noord-Kaap: Misdaad neem mooi af─── 15:26 Fri, 06 Dec 2024
![Noord-Kaap: Misdaad neem mooi af Noord-Kaap: Misdaad neem mooi af | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/8e0e700a-7f39-469d-aeef-875f1db2a95d.jpg?crop=0,0,800,450)
Inwoners van die Noord-Kaap word gevra om hande te vat met wetstoepassers om misdaad in dié uitgestrekte provinsie te bekamp.
“Ons gemeenskappe is die oë en ore van die polisie, want saam kan ons die strate terugvat van misdadigers wat ons gemeenskappe terroriseer,” het Bentley Vass, Noord-Kaapse LUR vir veiligheid, Vrydag (6/12) gesê tydens die bekendmaking van die provinsie se misdaadsyfers vir die tweede kwartaal (Julie tot September).
Die misdaadsyfers toon 14 van die 17 ernstige misdade wat die gemeenskap self aanmeld, het jaar-op-jaar met 9,5% afgeneem, het lt.genl. Koliswa Otola, Noord-Kaapse polisiekommissaris, tydens die bekendmaking in die premierskantoor in Kimberley gesê. In al vyf die provinsie se distrikte is minder van dié misdaad aangemeld.
Die bekendmaking van die Noord-Kaap se misdaadsyfers vir die tweede kwartaal. Foto verskaf
Frances Baard (Barkly-Wes, Hartswater, Kimberley, Warrenton) se afname van 12,8% was die grootste, gevolg deur die Namakwadistrik (Calvinia, Springbok, Sutherland) met ’n afname van 9,2% en John Taolo Gaetsewe (Kathu, Kuruman, Olifantshoek) se -7,6%.
Die kleinste afnames was 6,5% in Pixley ka Seme (Carnarvon, Colesberg, De Aar, Griekwastad, Prieska, Victoria-Wes) en ZF Mgcawu (Upington, Kakamas, Kenhardt, Groblershoop, Postmasburg) se -6,3%.
Tydens die kwartaal het kontakmisdaad, soos moord, verkragting, aanranding en motorkaping, met 5,5% afgeneem. Die hoofoorsake vir moord, poging tot moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer, bly rusies, misverstande en uitlokking, terwyl die meeste moorde in die Noord-Kaap met ’n mes gepleeg word. Vier-en-twintig minder moorde is gepleeg.
Beamptes sal met mening toeslaan op probleemmisdaad. Foto verskaf
Otola het melding gemaak van speurders se deeglike werk, wat daartoe gelei het dat talle misdadigers lewenslank tronk toe gestuur is. Sy het ook die doeltreffende samewerking tussen wetstoepassers en die howe geloof wat swaar strawwe vir ernstige oortredings moontlik gemaak het.
In Frances Baard, waar die meeste verkragtings aangemeld is, is in die kwartaal 11,3% minder gevalle aangemeld, terwyl die minste verkragtings in die weste van die provinsie in die Namakwadistrik gerapporteer is.
Otola het haar kommer uitgespreek oor misdaad op skoolpersele in die Noord-Kaap waar leerders die slagoffers is, maar soms ook die oortreders. Sy is ook besorg oor die voortgesette skade aan noodsaaklike infrastruktuur. Spanne is gestig in elke distrik om dié misdaad hok te slaan en werp reeds vrugte af.
Onwettige mynbou bly ’n kopseer in Kimberley en omstreke en aan Namakwaland se kus. Die multidissiplinêre operasie Vala Umgodi hou die druk vol op onwettige mynwerkers deur ongedokumenteerde verdagtes aan te keer en beslag te lê op toerusting.
Gesoekte verdagtes opgespoor
Intussen word deur Operasie Shanela steeds toegeslaan op brandpunte om kontakmisdaad te verminder en gesoekte verdagtes op te spoor en aan te keer. Dié operasie ondersteun ingryping om misdaad te bekamp wat van polisieoptrede afhanklik is.
Nog ’n multidissiplinêre projek, Operasie Phakisa, is toegespits op omgewingsmisdaad soos die oes en stroop van beskermde fauna en flora, maar ook infrastruktuur met ernstige ekonomiese en werkverliese en tot die nadeel van voedselsekerheid. Kwartaallikse optredes aan die Namakwalandse kus lei tot uiteenlopende suksesse, het Otola gesê.
#sapsNC [HAPPENING TODAY] The MEC for Transport, Safety and Liaison, Mr. Bentley Vass, will on behalf of Provincial Government, join the Provincial Commissioner of the #SAPS in the Northern Cape, Lt Gen Otola, for the presentation of the #CrimeStats for the second quarter of the… pic.twitter.com/fwCE6GQ9AQ
— SA Police Service ???? (@SAPoliceService) December 6, 2024
Intussen slaan Noord-Kaapse polisiebeamptes saam met kollegas ook gereeld toe tydens oorgrensoptredes om misdaad te bekamp wat oor provinsiale en landsgrense gepleeg word.
“Talle suksesverhale en aansienlike skuldigbevindings bewys die manne en vroue in blou maak inderdaad vordering in die oorlog teen misdaad,” het die provinsiale kommissaris gesê.
Sy beloof beamptes sal met mening toeslaan op probleemmisdaad soos geslagsgeweld, roof, handelsmisdaad, dwelmverwante misdade, poging tot moord, ontvoering en dronkbestuur. “Misdaad teen vroue en kinders sal nie geduld word nie, veral gevalle van gesinsgeweld.”
OFM Nuus cg