Central SA
Vrystaat het van die hoogste voorkoms van wanvoeding─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:08 Mon, 09 Dec 2024

Die menseregtekommissie sê wanvoeding onder kinders kan hokgeslaan word deur gemeenskapstuine in arm gebiede – én beter steun aan klinieke wat kan help om kindersiektes vinnig op te spoor en te behandel.
Die Vrystaat is een van die provinsies met die hoogste voorkoms van kindersterftes weens wanvoeding.
Sowat 1 500 Suid-Afrikaanse kinders het die afgelope twee jaar aan wanvoeding gesterf, sê Michéle Clarke, DA-LP en woordvoerder oor gesondheid.
Die ondoeltreffendheid van die nasionale skoolvoedingskema vererger die probleem. Foto ter illustrasie: Canva
Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het dié syfer in die parlement bekendgemaak in antwoord op ’n geskrewe vraag deur die DA.
“Die provinsies wat die hoogste getalle kindersterftes weens ernstige wanvoeding aanmeld, is die Oos-Kaap, Limpopo, KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Gauteng,” sê Clarke. “In KwaZulu-Natal is 265 kindersterftes aangeteken, Limpopo 230, die Oos-Kaap 190, Gauteng 172 en die Vrystaat 121.
Die provinsies met die minste sterftes weens ernstige wanvoeding is die Wes-Kaap, Noordwes, Noord-Kaap en Mpumalanga.
‘Skoolvoedingskemas moet uitgebrei word na naweke en vakansies’
Volgens Clark het Motsoaledi bevestig dat 304 kinders tussen 1 Januarie verlede jaar en 8 November vanjaar aan matige wanvoeding gesterf het en 1 153 kinders aan ernstige akute wanvoeding. Die Menseregtekommissie (MRK) lig gereeld die kwessie van wanvoedingsverwante sterftes onder kinders in provinsies soos die Oos-Kaap uit en skryf dit toe aan onvoldoende toelaes.
Jonas Sibanyoni, MRK-kommissaris, sê onvoldoende kindertoelaes en die ondoeltreffendheid van die nasionale skoolvoedingskema vererger die probleem.
Om die probleem die hoof te bied, beveel die MRK aan dat die kindertoelae tot R510 verhoog word. Hy vra ook dat skoolvoedingskemas uitgebrei word na naweke en vakansies, om te verseker dat kwesbare kinders konsekwente toegang tot voedsel het.
Die regering moet die skep van gemeenskapstuine in verarmde gebiede ondersteun. Foto ter illustrasie: Canva
Clarke beklemtoon dat minstens een uit elke vier kinders in Suid-Afrika aan verdwerging ly weens wanvoeding. “Dis selfs kommerwekkender dat dwerggroei aan die toeneem is.
“Dringende ingryping is nodig, en die departement van gesondheid moet sy samewerking met gemeenskapsuitreikprogramme versterk om soveel moontlik ondervoede kinders by te staan.”
Een van die MRK se aanbevelings is dat die regering die skepping van gemeenskapstuine in verarmde gebiede moet ondersteun en die bestuur van plaaslike klinieke verbeter, wat vinniger opsporing en behandeling van algemene kindersiektes soos diarree, longontsteking, MIV, TB en wanvoeding moontlik maak.