Central SA
Winburg sien uit na ’n nat Kersfees─── MORNÉ VAN ROOYEN 15:56 Tue, 10 Dec 2024
Weldoeners word gevra om vir eers nie water na Winburg aan te ry nie nadat dié Vrystaatse dorp se watertoevoer eindelik herstel is.
Inwoners het net 13 uit 36 dae tot Sondag (8/12) flou straaltjies water in hul krane gehad, maar van toe af geniet hulle ’n basiese mensereg wat op talle Vrystaatse dorpe ’n luukse geword het: normale watervoorsiening.
Die waterkrisis is veroorsaak deur verouderde elektrisiteitinfrastruktuur, vertel Eugene du Toit, bestuurder van die plaaslike tehuis vir bejaardes, Mooi Uitsig.
Inwoners staan einde verlede jaar tou vir water tydens ’n vorige waterkrisis op Winburg. Foto: Facebook/Masilonyana Local Municipality
“Die kabels bly blaas en bly blaas, en dan las hulle hom, dan blaas hy net ’n meter verder. Die kabels is so oud en vrot. (Die munisipaliteit) moet eintlik nuwe kabels insit.”
By Mooi Uitsig het hy as voorsorgmaatreël 30 000 L water in tenks opgegaar, maar selfs dit was nie genoeg ná langer as ’n maand van gebrekkige watertoevoer nie.
Iemand het namens Du Toit ’n Facebook-inskrywing geskep om water te vra. “So het dit nou gekom dat die ouens my bel.”
Winburgers bid hulle sal nie gou weer van waterwaens afhanklik wees nie. Foto: Facebook/Masilonyana Local Municipality
Pas Vrydag het ’n boer 20 000 L kom aflewer en ’n waterverskaffer van Bloemfontein, WaterBoy, het 1 000 L gesuiwerde drinkwater gebring vir die inwoners van die ouetehuis, asook kanne en bottels vir Winburg se kinderhuis.
Vir hoe lank die water- en kragtoevoer gaan hou nadat dit Sondag 20:00 herstel is, weet Du Toit nie, maar hy het duisende liter water opgegaar in pak- en koelkamers. “Ek wil nie voorspel hoe lank ons gaan water hê nie, want ons het al hoeveel Kersfeeste hier deurgesit sonder water.”
Hy vra dat mense vir eers nie water Winburg toe bring nie, ingeval ’n wonderwerk gebeur en die water teen Kersfees en selfs langer aan bly.
Gemeenskapsgedrewe projek
“Ek wil nou nie laat ouens water aflaai en op die ou einde van die dag gaan die water vermors nie. Dit is vir my baie sleg om water te mors.”
Die inwoners van Mooi Uitsig is tussen 70 en 95 jaar oud. Geld om self ekstra water te koop, het hulle nie.
“Dis basies ’n gemeenskapsgedrewe projek,” vertel Du Toit, “waar ons ons toespits om die Sassa-mense van akkommodasie en etes te voorsien. En laat hulle darem nog ’n bietjie van hulle Sassa-geld oor het … om vir hulle self iets te koop.”