Central SA
Bring Hoop SA laai vragte vol verligting af─── ELSABÉ DE JAGER 14:35 Fri, 13 Dec 2024

’n Organisasie sonder winsoogmerk wat boere in nood bystaan, sê hy het al baie meer gedoen as om boere tydens droogtes te help.
“Ons het al heelwat boere bygestaan wie se plase afgebrand het,” vertel Chris van Beljon, stigter van Bring Hoop SA.
“Ek dink aan ons twee groot konvooie wat destyds, op dieselfde tyd, die boere van Boshof tydens groot brandskade bygestaan het, terwyl hulp verleen is aan die boere van Beaufort-Wes, wat gebuk gegaan het onder versengende droogtetoestande.”
Hoop en geloof is al wat oorbly in tye soos dié. Foto: Facebook
Hierdie noodleniging bring vir hom, afgesien van die verligting aan boere in nood, sedert 2019 groot geestesvervulling. Nadat twee boere van Kenhardt die afgelope week hul plaas weens die knellende droogte moes verlaat, het Van Beljon opnuut besef waarom dié organisasie se bystand so noodsaaklik is.
“Wanneer ’n boer sy plaas verlaat, sal daardie grond nooit weer geboer word nie. Daar sal mense dalk wel die grond huur en ’n paar skape daarop sit, maar boerdery in die ware sin van die woord is verby op daardie plaas.”
Van Beljon verduidelik hoe minder boere in Suid-Afrika, “hoe slegter is dit vir die kosprys, vir die verbruiker, en natuurlik, hoe minder is daar van ons eie produkte op die rakke”. Die boere wat ondanks die droogte staande bly, word sonder twyfel gereken as die sterkste en kragtigste boere ter wêreld, meen hy.
“Depressie en selfdood onder boere neem by die dag toe.”
As ’n boer glo hy mense wat nie self boer nie, verstaan soms nie die emosionele band wat ’n boer met sy diere bou nie. “Daai skaap wat op my plaas loop, is ’n dier waarmee ek agt of nege jaar saamloop.
“Ek ken elke skaap by sy vel, die patrone op sy lyf, sy gedrag. Om daardie dier een oggend op te tel, dood weens droogte, lei tot ontsettende hartseer en emosionele uitputting.
“Depressie en selfdood onder boere neem by die dag toe.”
“Nog 45 dae sonder reën is verby,” skryf ’n boer. Foto: Facebook
Bring Hoop gee om vir elke boer wat die gevaar loop om sy plaas te verloor. “Ons gee om vir sy gesondheid. Ons gee om vir sy gesin. En dis waar Bring Hoop inkom,” vertel Van Beljon.
Terwyl hy gesels oor hierdie hand wat uitreik na medeboere, maak hy melding van die afgelope twee jaar se reënvalsyfer op sy plaas in die distrik Kenhardt: 36 mm reën in 2023 en 22 mm reën vanjaar.
Bring Hoop beywer hom daarvoor om boere in alle opsigte van hul alledaagse lewe by te staan. “Ons verskaf wel voer aan hulle, maar daar is so baie ander dinge in die lewe wat moet aangaan.
‘Enigiets, asseblief, enigiets, sal help’
“Hul kinders moet steeds skoolgaan, skool- en universiteitsgeld moet betaal word, diesel moet in voertuie gegooi word, pompe moet herstel word, plaaswerkers moet betaal word. Heelwat boere moes reeds ál sy werkers ontslaan en slegs een oorhou.”
Van Beljon sê sy dankbaarheid loop oor vir heelwat korporatiewe steun aan Bring Hoop. Dit stel hulle in staat om nie net boere nie, maar ook bejaardes en kinderhuise in nood by te staan.
Skenkings uit alle oorde sal verwelkom word. Geldelike bydraes, kosbydraes, skenkings van voer, vervoermaatskappye wat hulp kan verskaf met die vervoer daarvan na die plase, “enigiets, asseblief, enigiets, sal help,” pleit hy.
Skenkers maak dit moontlik dat bale voer na plase, gebuk onder droogte, vervoer kan word. Foto: Facebook
Dié man met die omgeehart se stem breek plek-plek terwyl hy vertel hoe die saadjie vir Bring Hoop geplant is. “So agt jaar terug het my ma my genader vir hulp aan ’n boer en sy gesin wat in die distrik Aberdeen gebuk gaan onder uiters slegte droogte.
“’n Paar van my vriende het bymekaargekom en vir hulle voer en kos ingesamel. Ons het dit laat die aand by die oom en tannie gaan aflaai.
“’n Oproep van ’n onbekende persoon, so ’n week later, wat aan my vertel het hoe dankbaar dié boer regtig was, het my so geraak dat ek besluit het om aan te gaan met hulpverlening aan dié wat swaarkry.”
‘Watter boer kan sonder ’n bakkie boer?’
Met die groetslag en nog ’n keer ’n breek van die stem, maak Van Beljon melding van ’n boer wat hom vandeesweek gebel het met die boodskap dat die bank pas beslag kom lê het op sy bakkie. “Vir hom beteken dit ’n wrede einde van sy boerdery. Watter boer kan sonder ’n bakkie boer?” vra hy sag.
Besoek Bring Hoop SA se Facebook-blad vir besonderhede oor hoe jy kan help.
OFM Nuus/Elsabé de Jager mvh