Central SA
Inwoners boos oor geslote Mangaung-swembaddens op vakansiedae─── MARIETJIE GERICKE 15:19 Tue, 17 Dec 2024
Bloemfonteiners is die hoenders in dat Mangaung-metro sy openbare swembaddens op openbare vakansiedae in die feestyd gaan sluit.
Die munisipaliteit sê dis weens die gevaar dat mense drank en vuurwapens na die swembaddens sal bring. Hy verkwalik ook ’n tekort aan genoeg lewensredders en veiligheidspersoneel om moontlike gevare te hanteer.
Ryno September, wat Dinsdag (17/12) saam met sy gesin by die Stadion-swembad in Bloemfontein ontspan het, sê openbare swembaddens bied juis lafenis midde-in ’n hittegolf, soos nou wanneer die kwik tot 35 °C gestyg.
“Ons het ons swembaddens veral op Kersdag, (Gesinsdag), Nuwejaarsdag en Tweede Nuwejaarsdag nodig, want dan is dit die tyd dat mense saam met gesinne by swembaddens wil kuier. Ons kan nie gedwing word om almal op daardie dae Maselspoort toe te ry nie.”
‘Amptenare sit by die huis’
Hy sê die metro is toerisme-onvriendelik en gee nie om vir die inkomste wat hy so as ’t ware in die water gooi nie. Amptenare se salarisse styg jaar ná jaar. maar op vakansiedae verkies hulle om by die huis te sit. “Die onbekwaamheid is skreiend!” meen hy.
Dr. Thabang Thinti, hoof van die departement gemeenskapsdiens van die metro, sê sy kantoor het die nuusbrief uitgestuur dat swembaddens gesluit sal wees. “Ek sou graag die swembaddens wou oophou, maar ons het net ses lewensredders. Dit is veels te min.”
Personeeltekort weens ’groot dae’
Inwoners wat daarna uitgesien het om op die openbare vakansiedae te swem, sal dus nou ’n ander plan moet maak. Volgens die nuusbrief gaan dit juis ook daaroor om diegene te beskerm wat nie kan swem nie.
“Daar is ook die metro se werknemers wat verlof neem om by gesinne en die res van die families te wees, wat tot ’n tekort aan personeel lei. Daar was tragiese verliese in die afgelope twee jaar as gevolg van die kwessies,” lui die nuusbrief, sonder om die verliese te spesifiseer.

Die Arthur Nathan-swembad in Bloemfontein. Foto verskaf
Hy stem saam met die metro se besluit, want die beskerming van lewe is die belangrikste oorweging, sê Martin Slabbert, voorsitter van die organisasie We Love Bloem. Daar is nie die kapasiteit om lewens te red nie en om hulle veiligheid te verseker nie.
“Dit sou lekker gewees het as die swembaddens oop kon gewees het, maar dan sou ’n jaar vooraf hieroor gepraat en beplan moes geword het,” meen hy.
Sy organisasie was onlangs betrokke by die skoonmaak van die Arthur Nathan-swembad, ’n historiese swembad naby die middestad wat as nasionale erfenis gelys is. Die swembad en perseel is in ’n gehawende toestand; daarom sal dit dermiljoene rande kos om die swembad weer in bedryf te stel.

Openbare swembaddens moet juis lafenis bied midde-in ’n hittegolf. Foto: Canva
Maar DA-rdl. Pieter Lotriet, voormalige swemafrigter met vier seuns wat as swemmers presteer het, meen “dit is godskreiend wat hier aan die gang is en belaglik om Mangaung se swembaddens op die openbare vakansiedae te wil sluit.
“Goeie dienste aan die gemeenskap met oorgenoeg lewensredders en sekuriteit moet gelewer kan word en goeie bestuur hiervoor is nodig. Dit kan nie wees dat swembaddens net gesluit word nie – dit is belaglik.”

Maselspoort-vakansieoord-en-konferensiesentrum buite Bloemfontein. Foto: Facebook
Intussen is Maselspoort-vakansieoord-en-konferensiesentrum buite Bloemfontein, wat nuwe eienaars het, boordensvol bespreek oor die Kers- sowel as die Nuwejaar wat sy huisies en rondawels betref. Daar is nog net kampeerplek oor, volgens ’n woordvoerder in die oord se kantoor.
Die vorige eienaar, Reg Krohn, wat nou in Perth, Australië, woon, sê hy kan nie meer namens die oord praat nie, maar die nuwe eienaars, ’n Nigeriese maatskappy, sal nadere besonderhede kan gee. “My span personeel is egter nog steeds daar en bestuur en bedryf die oord.”
Na verneem word, kry ’n splinternuwe waterglybaan wat die afgelope maand by Maselspoort opgerig is groot aftrek.
