On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Skare brand verhoog af toe gewilde sangeres wegbly van Noordwes-fees

───   MORNÉ VAN ROOYEN 15:37 Fri, 27 Dec 2024

Skare brand verhoog af toe gewilde sangeres wegbly van Noordwes-fees | News Article
Woedende lede van die skare by die Kwas London-fees op Makwassie het die verhoog en toerusting vernietig. Foto: Facebook

Die polisie in Noordwes soek na oproerige toeskouers wat enorme skade op ’n musiekfees aangerig het omdat een van die hoofkunstenaars nie opgedaag het nie.

Die sangeres Makhadzi, wie se sewende ateljeealbum, Miracle Child, twee maande gelede uitgereik is, was veronderstel om Donderdag (26/12) om 22:00 op te tree tydens die jaarlikse Kwas London Fun Games & Music Festival op Makwassie.

Video’s word op sosiale media gedeel waarin gesien kan word hoe lede van die skare die verhoog toetakel.

Na bewering het ’n groot skare tot omstreeks Vrydagoggend vyfuur in die Makwassie-stadion gewag dat sy haar opwagting maak, sonder enige verklaring van die organiseerders, wat toe ’n plaasvervanger in haar plek laat optree het. Dié sangeres lyk glo soos Makhadzi, maar nie genoeg om die skare te flous nie.

Die sangeres Makhadzi het nog onlangs aanhangers in ’n video op sosiale media uitgenooi om te kom kyk hoe sy op Makwassie optree. Skermskoot: Facebook

Hulle het woedend gereageer deur die verhoog met bottels en klippe te bestook. Volgens ooggetuies het hulle toe die verhoog en ander toerusting aan die brand gesteek.

Die sosialemediagebruiker Ditaba Tsa Kanana dink dis lagwekkend dat die skare die verhoog afgebrand het nadat die sangeres in dié video Makhadzi sonder sukses probeer naboots het. Skermskoot: Facebook

Die polisie en nooddienste is na die toneel ontbied om die orde herstel. Geen beserings is aangemeld nie, behalwe die nabootser, wat ligte beserings opgedoen het.

Die skade aan die verhoog en toerusting beloop na raming amper R3 miljoen, sê kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder. “Ondersoeke is aan die gang, en niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Die verhoog, klank- en beligtingstoerusting het in die slag gebly. Foto: Facebook

Sy vra enigeen met inligting wat die polisie kan help om die verdagtes aan te keer, moet kapt. Bereng Hlasa, Makwasie se stasiekommissaris, by 082 575 8377 nader of Stop Misdaad by 08600 10111 bel. Gee wenke anoniem deur op die MySAPS-app.

OFM Nuus/Morné van Rooyen

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.