On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Michael
Listen Live Streams

Central SA

Meer as 200 Nuwejaarsbabas vir Sentraal-Suid-Afrika

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 06:04 Sat, 04 Jan 2025

Meer as 200 Nuwejaarsbabas vir Sentraal-Suid-Afrika | News Article
Die eerste baba in die Vrystaat was Me. Retshedisitwe Lawerloot se babadogter wat om 00:01 gebore is. Foto verskaf

Meer as 200 babas is op Nuwejaarsdag in die sentrale deel van die land verwelkom, wat bygedra het tot altesaam 1 448 geboortes landwyd.

Gauteng het die meeste pasgeborenes gerapporteer, gevolg deur die Oos-Kaap en Limpopo.

“Vanjaar se getal is ’n afname vergeleke met die 1 703 aflewerings wat verlede jaar hierdie tyd aangeteken is,” sê Foster Mohale, woordvoerder van die departement van gesondheid.

In die sentrale streek het Noordwes weer eens die meeste Nuwejaarsbabas (89) verwelkom asook die meeste Kersbabas (102) in die streek.

Puleng Sekonyela se babadogter is 00:10 gebore. By haar staan Mpho Nkwadipo (vroedvrou) en Tjhaka Mokoena (bedryfsbestuurder van die Pelonomi- Akademiese Hospitaal). Foto verskaf

Die Vrystaat se eerste baba van die jaar is om 00:01 in die Albert Nzula-distrikshospitaal in Trompsburg gebore. Luidens ’n verklaring van die departement het die tweede baba net nege minute later by die Pelonomi- Akademiese Hospitaal in Bloemfontein gevolg.

Teen 08:00 het die Vrystaat reeds 24 babas verwelkom, wat teen die einde van Nuwejaarsdag tot 85 gestyg het.

Die Noord-Kaap het die minste geboortes aangeteken, net 37.

Thembisile Ndaba se baba is 00:30 op Bethlehem gebore. Foto verskaf

Tienerswangerskappe het ’n aansienlike afname getoon, met die departement wat ’n afname van meer as 50% gerapporteer het. In 2024 het 190 tieners op Nuwejaarsdag geboorte geskenk, vergeleke met 80 vanjaar.

Ten spyte van hiervan het Mohale die noodsaaklikheid van dringende optrede beklemtoon. 

“Ons doen ’n beroep op alle sektore van die samelewing, veral gesinne, om hande te vat met die regering en nieregeringsorganisasies om die plaag van tienerswangerskap aan te spreek.”

Een van die Nuwejaarsbabas wat in Kimberley gebore is. Foto: Facebook

Hy sê tienerswangerskap lei dikwels tot onreëlmatige skoolbywoning, swak akademiese prestasie, en uiteindelik skoolverlating, veral vir moeders wat nie familieondersteuning het om vir hul babas te sorg terwyl hulle skool bywoon nie.

Die departement het sy verbintenis tot ondersteuning van moeders deur samewerking met die departemente van maatskaplike ontwikkeling en basiese onderwys herbevestig. 

“Ons sal voortgaan om deur bestaande programme te werk om te verseker dat hierdie babas oorleef en floreer.”

Uiteensetting van geboortes per provinsie

Oos-Kaap: 219

Gauteng: 387

Vrystaat: 85

Limpopo: 191

KwaZulu-Natal: 185

Mpumalanga: 154

Noordwes: 89

Noord-Kaap: 37

Wes-Kaap: 101

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.