Central SA
Vermoorde vrou van Eldoradopark Saterdag gegroet─── CHARNÉ VAN DER MERWE 06:53 Sat, 04 Jan 2025
Die Gautengse premier sal Saterdag (4/1) die begrafnis bywoon van ’n vrou wat na bewering deur ’n polisiesersant vermoor is.
“Die sinnelose moord op ’n verkeersbeampte het die gemeenskap van Eldoradopark beroof van ’n onbaatsugtige en vreeslose dienaar van die mense.
“Sy was een van ons, en haar lewe is geneem deur iemand wat die gemeenskap vir beskerming vertrou het. Ons sal verseker dat die oortreder gestraf word,” het Panyaza Lesufi, Gautengse premier, ná die moord op Chesnay Patrica Keppler (22) gesê.

Foto: Facebook
Keppler is Donderdag (26/12) na bewering wreed vermoor deur haar kêrel, ’n polisiesersant (42) wat by die Eldoradopark-polisiekantoor gestasioneer was.
Die verdagte het na bewering ongenooid onder die invloed van drank by Keppler se huis opgedaag en haar buite aangerand. Keppler en nog ’n vrou het glo in die huis ingevlug.
Die verdagte het toe veelvuldige skote deur die kombuisvenster afgevuur en Keppler, wat later by die Baragwanath-hospitaal dood verklaar is, noodlottig gewond, sê Phaladi Shuping, woordvoerder van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod).

’n Diens vir Keppler vind Saterdag plaas. Foto: Facebook
Die sersant het ná die skietery van die toneel gevlug.
Shuping het berig dat die beampte, nou onder polisiebewaking in ’n hospitaal, kort ná die voorval probeer het om sy eie lewe te neem.
“Toe die polisie hom later die dag aangekeer het, het hy na bewering sy dienspistool op homself gerig en geskiet en verdere beserings opgedoen,” sê Shuping. “Verdere besonderhede oor die omstandighede van die skietery kan in hierdie stadium nie bekend gemaak word nie.”
‘Die beampte bly in die hospitaal onder polisiebewaking’
Die verdagte sou Maandag (30/12) vir die eerste keer in die hof verskyn het op aanklag van moord, maar die saak is uitgestel.
“Die saak teen die polisiebeampte is tot Maandag (6/1) uitgestel. Die beampte bly in die hospitaal onder polisiebewaking nadat hy sy eie lewe probeer neem het,” sê Shuping.
’n Tuisdiens vir Keppler vind Saterdag van 08:00 tot 09:30 by Waterpanstraat 31, Eldoradopark, plaas. ’n Diens in die Don Mateman-saal sal om 10:00 volg.
