On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Lucy blink uit op verhoog, maar nog meer in lewenswetenskappe

───   KAREN VAN DER BERG 13:55 Fri, 17 Jan 2025

Lucy blink uit op verhoog, maar nog meer in lewenswetenskappe | News Article
Lucy Groenewald (18) het eers die vak verlede jaar as matrikulant begin neem. Foto: Karen van der Berg

Om as die toppresteerder in lewenswetenskappe by Eunice High School in Bloemfontein uit te blink, is ’n besonderse prestasie.

Maar wat Lucy Groenewald (18) se prestasie selfs merkwaardiger maak, is dat sy eers die vak verlede jaar as matrikulant begin neem het.

Lucy het altyd gedink sy gaan ’n aktrise word. Maar nadat sy daaroor besin het, het sy besluit om eerder medies te studeer en moes sy inderhaas verlede jaar lewenswetenskappe as vak begin neem.

“Ek is mal oor die vak biologie en het darem nie lank gesukkel om in te haal nie.” Sy het ook baie lof vir haar biologieonderwyser, juffrou Linki Jooste. Haar juffrou en haar belangstelling daarin het gemaak dat sy 92% daarvoor behaal het, die beste punt in die skool.

Lucy was Vrydag (17/1) op die matriekklas van 2024 se Welgedaan-geselligheid van die onderwysdepartement een van die 131 leerlinge wat vir hul prestasies vereer is. Sy beklee die 55ste plek onder topmatrikulante in die Vrystaat. Die funksie is in die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) se Boet Troskie-saal gehou.


Lucy vertel sy was nog altyd mal oor drama en kultuur.

Sy het verlede jaar die besonderse prestasie behaal toe sy ’n A+++ (100%) op die Vrystaatse Kunswedstryd vir haar monoloog behaal het. Lucy was ook in 2022 in die nuus toe sy die ATKV se Digi-Toneel-kompetisie gewen het.

In 2023 het OFM se Joyride-span vir Lucy ook ingespan om as “tandefeëtjie” op te tree in OFM se ateljee. Dit het gevolg nadat Nkanyi Seroto (toe 7) van die St. Andrew School in Bloemfontein sy tandjie by die skool verloor het toe hy rugbyproewe gespeel het. Hy was baie hartseer daaroor. 

Die hele skool het ingegryp en hom help soek. OFM het hiervan te hore gekom en hom bederf met ’n besoek van die tandefeëtjie in die ateljee en het ook vir hom ’n geskenkpak gegee.


Maar nou is Lucy gereed om vanjaar medies aan die Universiteit van die Vrystaat te studeer. Sy is doodtevrede met haar punte en sê sy het die matriekeindeksamen aangepak soos net nog iets wat sy moes doen. “Ek het nie ’n vreeslik groot bohaai daarvan gemaak nie en het net deurlopend hard gewerk.”

Lucy sien uit na haar studie en haar loopbaanmoontlikhede. Sy is die jongste kind van Robey en Penny Groenewald en het ’n ouer broer, Robey (23).

OFM Nuus/Karen van der Berg cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.