On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Renosterstropery: Drie Noordwesters gevonnis weens sameswering

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:01 Sat, 15 Feb 2025

Renosterstropery: Drie Noordwesters gevonnis weens sameswering | News Article
Drie Noordwesters is gevonnis vir sameswering tot renosterstropery. Foto: iStock

Drie mans van Noordwes is elk Vrydag (14/2) by die Tlhabane-streekhof tot agt jaar tronkstraf gevonnis nadat hulle skuldig bevind is aan sameswering tot renosterstropery.

Die beskuldigdes – Simon Sihlangu (51), ’n Mosambiekse burger, Jimmy Molefe (39) en Albert Makhubela (45), ook ’n Mosambiekse burger – is ook skuldig bevind weens die besit van ongelisensieërde vuurwapens, onwettige ammunisie en gevaarlike wapens, sê Sivenathi Gunya, NVG-woordvoerder in Noordwes.

Die aanklagte spruit uit ’n voorval wat op 12 Oktober 2017 by Mziki Safari Lodge naby Rustenburg plaasgevind het, waar die drie probeer het om renosters te stroop. Die polisie het egter ’n wenk oor die beplande stroping ontvang en by die lodge aangekom om die mans vas te trek. 

“Die mans het in drie bakkies by Mziki Safari Lodge aangekom waarna hulle by die hek in hegtenis geneem is. Tydens die soektog is niks in die eerste twee bakkies gevind nie, maar ’n versteekte geweer, ammunisie, ystersaag, mes en byl is in derde voertuig gevind,” sê Gunya.

Ná hul inhegtenisneming is die beskuldigdes op borgtog vrygelaat

Rodger Mareume, staatsaanklaer, het met die vonnisoplegging die eienaar van Mziki Lodge, wat ook die voorsitter van die Rhino Private Owners Association is, geroep om te getuig. Gunya sê die eienaar is glo weens die  stropery gedwing om meer as R500 000 te belê om die sekuriteitstelsel op te gradeer.

Die eienaar het glo ook beklemtoon dat renosterstropery deel is van internasionale georganiseerde misdaad, wat miljarde rande vir die oortreders genereer.

Streeklanddros Paul Moeng het, ná oorweging van vorige sake, gesê daar is geen presedent wat daarop dui dat ’n vonnis met ’n alternatiewe boete gepas sal wees vir oortredings van hierdie aard nie, sê Gunya.

Hul vonnis is as volg opgelê:

  • agt jaar gevangenisstraf vir sameswering om renosterstropery te pleeg
  • vier jaar gevangenisstraf vir die besit van ammunisie sonder ’n lisensie
  • twee jaar gevangenisstraf vir die onwettige besit van ammunisie
  • twee jaar gevangenisstraf vir die besit van gevaarlike wapens

Die vonnisse is gelas om samelopend uitgedien te word, wat beteken die drie mans sal elk agt jaar tronkstraf uitdien.

OFM Nuus cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.