Central SA
Afrique-moord: Kimberley-man se derde borgtogaansoek ook geweier─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:00 Sat, 08 Mar 2025
Die Kimberley-man wat tereg staan op aanklag van moord en poging tot moord het weer nie borgtog gekry nie.
John-Ross Henderson (38) wat teregstaan op aanklagte van moord en poging tot moord in verband met die skietery op Jayson Afrique en sy vrou, Micayla, het Woensdag (5/3) in die hooggeregshof in Kimberley verskyn.
Tydens dié verhoor is sy borgtogaansoek vir die derde keer geweier, sê Mojalefa Senokoatsane, Noord-Kaapse woordvoerder.
“Die hof het geen oortuigende bewyse gevind dat Henderson hom daarvan sou weerhou om met die ondersoek in te meng of enige streng borgtogvoorwaardes te oortree nie. Daarbenewens het Henderson versuim om dwingende en wesenlike uitsonderlike persoonlike omstandighede aan te toon wat sy vrylating op borgtog sou regverdig.”
LEES OOK: Kimberley biker’s murder: Case postponed
Henderson word daarvan aangekla dat hy Afrique in Julie 2024 geskiet en probeer het om Micayla in hul bakkie buite hul woonkompleks in Kimberley te skiet. Hy is in September 2024 deur die polisie in hegtenis geneem.
In sy eerste borgtogaansoek het Henderson ’n verklaring verskaf, maar tydens sy tweede aansoek het hy nuwe inligting geëis. Hy het getuig dat hy ná die voorval op die toneel was en 'n skets van die misdaadtoneel ingedien het om te wys dat dit nie behoorlik afgesper is nie, het Senokoatsane voorheen aan OFM Nuus gesê.
’n Kritieke bewysstuk is Henderson se selfoon wat op die misdaadtoneel naby die egpaar se bakkie gevind is, met sy vingerafdruk daarop. Die staat voer aan dat sy eis die volgende dag by die polisie – wat sê dat sy foon by 'n vulstasie verlore geraak het – vals was.

Jayson Afrique en sy vrou, Micayla. Foto: Facebook
“Volgens die staat se saak het die skieter die egpaar agternagesit voordat hy op hulle losgebrand het toe hulle probeer het om hul woonstelkompleks binne te gaan.”
Senokoatsane sê ook die vuurvuurwapen wat in die moord gebruik is, is steeds soek en die polisie is bekommerd dat dit weer gebruik kan word. Nog ’n bekommernis is dat Henderson vertroud is met die identiteite, aktiwiteite en bewegings van sleutelgetuies. Boonop word nog ’n verdagte in verband met die misdaad gesoek.
Henderson, 'n voormalige polisiebeampte, het ’n geskiedenis van misdadige aanklagte, insluitend gewapende roof, hoewel sy verhoor vir daardie oortreding nog nie afgehandel is nie. Dit is nog nie bekend wanneer hy weer in die hof moet verskyn nie.
OFM Nuus dg
