On Now
Weekends 20:00 - 22:00
Sunday Night OFM
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Nege kinders van Bloemfontein in hospitaal ná bakkie rol

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:39 Wed, 23 Apr 2025

Nege kinders van Bloemfontein in hospitaal ná bakkie rol | News Article
Die bakkie wat in die ongeluk betrokke was. Foto: Charne van der Merwe

Nege kinders van ’n Bloemfonteinse skool is hospitaal toe geneem nadat hulle Woensdagoggend (23/4) in ’n ongeluk betrokke was.

’n NP200 Nissan-bakkie het Woensdagoggend (23/4) met nege skoolkinders, almal leerders aan die Academy of Excellence in Bloemfontein, gerol nadat die bestuurder glo uitgeswaai het om ’n slaggat te vermy op die N8 naby die Rudolf Greyling-brug. 

Volgens ’n ooggetuie op die toneel het die bestuurder gesê dat die bus wat gewoonlik gebruik word om die kinders te vervoer, onklaar is; daarom het hy hulle agterop die bakkie vervoer. “Ek is net dankbaar dat al die kinders leef. Dit kon baie erger gewees het,” sê Tommie Fourie, rektor by die skool. 

Fourie en Jolene van der Merwe, hoof van die laerskool, was op die toneel.

Die gat waarvoor die bestuurder glo uitgeswaai het. Foto: Charne van der Merwe

Intussen is daar steeds geen vordering in die ondersoek na ’n ongeluk vroeër vanjaar wat die lewe van drie kinders geëis het nie. Twee broers, Ryan (6) en Ayden (8) Smit, asook hul niggie Leané van Papendorp (8), is op 24 Januarie in ’n ongeluk by die kruising van die N8 en Krugerlaan naby Aljo se Superspar dood.

Nog ’n kind, Tennique Joubert (6), was ná die ongeluk byna twee weke in ’n koma in die Pelonomi-hospitaal. Weens die erns van haar beserings moes haar milt verwyder word. Sy is ná 19 dae se behandeling ontslaan.

Die bestuurder (19) van die Hilux, wat ’n sleepwa gelaai met swaar metaal gesleep het, het na bewering nie betyds stilgehou nie en gebots met die Chevy Spark, wat die kinders vervoer het. Leané se ma, Adri Jonck, wat die Chevy Spark bestuur het, het beserings opgedoen, maar is kort ná die ongeluk uit die hospitaal ontslaan.

‘Meer vrae as antwoorde’

Die bestuurder is nog nie in hegtenis geneem nie en geen klagte is teen hom gelê nie.

Martin Smit, pa van die oorlede broers, het vroeër aan OFM Nuus  gesê hy het al verskeie kere die polisiekantoor besoek, net om met meer vrae as antwoorde weg te stap.

“Ek was weer op 9 April by die polisie en volgens hulle wag hulle steeds vir getuieverklarings, ’n doktersverslag van die nadoodse ondersoek en dash cam-beeldmateriaal. Elke keer beweer hulle daar is nog inligting hangende, maar die saak vorder net nie,” sê Smit.

Ayden en Ryan. Foto verskaf

Volgens kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, duur die ondersoek voort. “Verklarings is van albei betrokke partye verkry; verdere ondersoek word egter vereis, en niemand is in hierdie stadium aangekla nie.

“Die polisie wag nog vir verslae van ander departemente. Die ondersoekbeampte is van hierdie eksterne partye afhanklik om die uitstaande verslae en dokumente te verskaf. Sodra al die nodige inligting ontvang is, sal die saakdossier aan die hof voorgelê word vir ’n beslissing.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.