Central SA
Vrystaatse paartjie vas ná moord op eks-vriend─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:03 Thu, 01 May 2025

Twee verdagtes van die Vrystaat sal na verwagting Vrydag (2/5) in die hof verskyn op aanklag van moord op ’n eks-vriend.
Twee verdagtes, van 21 en 33 onderskeidelik, afkomstig van Tebang Village is in hegtenis geneem deur die Makwane polisie ná die beweerde moord op die vroulike verdagte se eks-kêrel (24), sê ao. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder.
Daar word beweer dat die eks–kêrel van Monyakeng, net buite Wesselsbron, Dinsdag (29/4) omstreeks 10:00 by sy eks–meisie se woning opgedaag het en klere, wat hy gedurende hul verhouding vir haar gekoop het, terug wou hê. Volgens Mophiring het die oorledene die huidige kêrel toestemming gevra om met haar te praat.
Die vroulike verdagte en die slagoffer het gepraat, maar die gesprek het glo tot ’n bakleiery gelei waarna die huidige kêrel toe ook by die woordewisseling betrokke geraak het.
Eks-kêrel met skerp voorwerp gesteek.
Die vrou het na bewering die huis binne gehardloop en met ’n skerp voorwerp teruggekeer waarmee sy haar eks-kêrel gesteek het. Die polisie is ontbied en het die oorledene met ’n noodlottige steekwond in die bors gevind. ’n Mes is as bewysstuk gekonfiskeer.
Mophiring sê die slagoffer het aan sy besering beswyk en is op die toneel, waar die verdagtes ook inhegtenis geneem is, dood Die naam van die oorledene kan nie vrygestel word totdat hy formeel deur sy familie of naasbestaandes geïdentifiseer is nie.
‘Vermiste vrou se liggaam gevind.’
Twee verdagtes van Noordwes sal op Woensdag (7/5) in die Vryburg-landdroshof verskyn in verband met die moord op die 43–jarige Motlalepula Kau.
Die verdagtes, Tshepiso Montswane (33) en Gaonopotso Rantsho (33), staan tereg op aanklagte van moord, ontvoering, roof en seksuele aanranding. Daar word verwag dat hulle tydens die verhoor om borgtog sal aansoek doen.
Kau se liggaam is op Donderdag (24/4) in 'n vlak graf in die bosse buite Vryburg ontdek – net een dag nadat sy as vermis aangemeld is. Volgens Sabata Mokgwabone, Noordwes polisiewoordvoerder, is sommige van haar persoonlike besittings by een van die verdagtes se wonings gevind.
Die motief vir die moord is onbekend.