Central SA
Bedrogklagte teen Bloemfonteinse sakeman laat vaar─── ZENANDE MPAME 11:16 Fri, 02 May 2025

Aanklagte van bedrog en geldwassery teen ’n sakeman van Bloemfontein is teruggetrek nadat voorleggings by die staatsaanklaer ingedien is.
Die saak teen Richard Macdonald (61) is Vrydag (25/4) laat vaar aangesien geen bewyse gevind kon word van enige misdade deur hom of sy maatskappy, Radius Sales and Merchandising, nie.
Macdonald is van R1 miljoen se bedrog en geldwassery aangekla wat gespruit het uit uitbetalings van die tydelike werkgewer-werknemer-verligtingskema (Ters).
“Die aanklagte teen my en my maatskappy was verregaande,” sê Macdonald, “aangesien ons al die afgelope 36 jaar handel dryf in die Vrystaat, Noord-Kaap en Lesotho.”
Die maatskappy is nog altyd bedryf op die beginsels van eerlikheid en integriteit, sê hy. “Die nuus van my inhegtenisneming het ’n nadelige uitwerking op ons eens gerespekteerde besigheid.”
Hy beskryf die ervaring as “ontmoedigend” en sê dit sou gehelp het as die owerheid eers deeglik en akkuraat ondersoek ingestel het voor die klagtes teen hom aanhangig gemaak is. “Ek glo vas dan sou die saak nie eens hof toe gegaan het nie.”
R5 000 borgtog
Die Valke het Macdonald op Maandag 27 Januarie in hegtenis geneem. Tydens sy eerste hofverskyning later daardie dag is hy borgtog van R5 000 toegestaan.
Hy is daarvan verdink dat hy van Maart 2020 tot Junie 2021 bedrieglike Ters-eise namens sy werknemers by die Werkloosheidsversekeringsfonds ingedien het.
Bevestiging van die terugtrekking van die saak. Foto: Verskaf
“Gelukkig behartig ’n gerespekteerde maatskappy ons betaallys en geldsake; daarom kon al die inligting bymekaargemaak en aan die staatsaanklaer voorgelê word.”
Toe Macdonald in Maart in die hof verskyn, is die saak uitgestel tot 25 April omdat die staatsaanklaer gesê het hy het nog nie deur al die dokumentasie gewerk nie. “Maar die dag vantevore is my regsverteenwoordiger ingelig die saak is van die rol geskrap.”
Eisgeld teruggeneem
OFM Nuus het voorheen berig ’n ondersoek deur die Valke het kwansuis aan die lig gebring dat drie mense wat as werknemers aangedui is op die Ters-aansoek, burgers van Lesotho was wat hulle onwettig in die land bevind het.
Macdonald erken drie Lesotho-burgers het by hom gewerk. Hy het namens hulle geëis, maar toe die maatskappy geouditeer is, is die geld teruggeneem.