On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-ma in hof oor suur in tiener se gesig

───   13:23 Fri, 02 May 2025

Noordwes-ma in hof oor suur in tiener se gesig | News Article
Foto ter illustrasie: Time of India

’n Ma van Noordwes doen na verwagting Dinsdag (6/5) aansoek om borgtog nadat sy na bewering haar tienerdogter se gesig met suur geskend het.

Die 47-jarige het die afgelope Dinsdag en Woensdag in die Molopo-landdroshof in Mmabatho op aanklagte van poging tot moord en kinderverwaarlosing voorgekom, sê kol. Adèle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.  

Die verdagte het die polisie vroeg die oggend van Dinsdag 22 April gebel om te sê haar dogter (14) het omstreeks 06:30 suur oor haarself uitgegooi en is in ’n plaaslike hospitaal opgeneem.

Na buitekamer vergesel

In ’n ondersoek deur Mmabatho se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings is vasgestel dat die ma in die vroeë oggendure tuisgekom het in die township Majemantsho, suid van Mahikeng.

“Blykbaar het sy gevra die kind moet haar na ’n buitekamer vergesel, waar sy na bewering suur in haar gesig gegooi het,” sê Myburgh. Daarna het die ma die kind na ’n plaaslike hospitaal geneem.

Foto ter illustrasie: Times of India

“Die ma se inhegtenisneming is ’n skrale troos en sal beslis nie die kind se pyn en trauma aan die hand van haar ma, wat veronderstel is om haar oppasser, voorsiener en beskermer te wees, kan uitwis nie,” sê genl.maj. Patrick Asaneng, waarnemende provinsiale polisiekommissaris.

Hy meen dié misdaad verg die daadwerklike betrokkenheid en kollektiewe verantwoordelikheid van die owerheid en burgerlike samelewing om werk te maak van die maatskaplike oorsake van misdade teen kinders, vroue, bejaardes en ander kwesbare burgers.

“Geen straf of vonnis wat die ma opgelê word en geen mediese behandeling sal genoegsaam vir die jong slagoffer wees nie,” meen Asaneng. “Die onskuldige kind is beslis lewenslank liggaamlik, sielkundig en emosioneel geskend.”

OFM Nuus mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.