On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Amptelike provinsiale begrafnisse beplan vir drie Vrystaatse polisiekonstabels

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:45 Sat, 03 May 2025

Amptelike provinsiale begrafnisse beplan vir drie Vrystaatse polisiekonstabels | News Article
Die konstabels. Foto verskaf

Amptelike provinsiale begrafnisse sal gehou word vir die drie Vrystaatse polisiekonstabels wat verlede week vermoedelik in ’n padongeluk op pad na Limpopo gesterf het.

Polisieduikers het Maandag (28/4) en Dinsdag vyf liggame uit die Hennopsrivier gehaal, insluitend konst. Linda Cebekhulu (24), Keamogetswe Buys (30) en Boipelo Senoge (20). Die liggame is gevind tydens ’n uitgebreide soektog wat gevolg het op hul verdwyning verlede Woensdag.

Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, het vroeër gesê dat ondersoekbeamptes nie die moontlikheid uitgesluit het dat die voertuig moontlik van die pad af gegly het as gevolg van swaar reën wat die noordelike dele van die land sedert verlede week getref het nie.

Volgens brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het die premier van die Vrystaat, Maqueen Letsoha-Mathae, en die Vrystaatse provinsiale polisiekommissaris, lt. genl. Baile Motswenyane, Vrydag (2/5) besluit om amptelike provinsiale begrafnisse toe te staan ter ere van die konstabels.

Ondersoeke na VW Polo begin. Foto verskaf

Die begrafnisdienste sal oor drie agtereenvolgende dae plaasvind. Senoge sal ter ruste gelê word Donderdag (8/5). Die diens sal gehou word van 08:00 tot 11:00 by die St Peter Anglikaanse Kerk in Rocklands, Mangaung.

Cebekhulu en Buys se begrafnisse sal onderskeidelik Vrydag (9/5) en Saterdag (10/5) van 08:00 tot 11:00 plaasvind. Verdere besonderhede moet nog bevestig word. 

’n Gedenkdiens sal ook Dinsdag (6/5) by Bobbiespark in Bloemfontein ter ere van die konstabels se diens en toewyding gehou word.


 “Die Suid-Afrikaanse polisiediens en die Vrystaatse provinsiale regering betuig hul diepste meegevoel aan die families en geliefdes van die polisiebeamptes. Hul afsterwe het die land diep geraak, maar hul toewyding en bydrae sal nooit vergeet word nie,” sê Makhele.

OFM Nuus het voorheen berig dat die beamptes Woensdag laas gesien is by 'n Engen-vulstasie naby die Grasmere-tolplaza op die N1-snelweg in die suide van Gauteng. Hulle het in ’n wit VW Polo-sedan gereis.

Voertuigfragmente, insluitend die voorste en agterste buffers, is Woensdagmiddag (30 April) deur die polisie se soek- en reddingspanne in die Hennopsrivier ontdek, ongeveer 4 km van die N1-snelweg af. Die soektog is Donderdag (31 April) afgesluit toe die VW Polo uit die rivier gehaal is.

Twee van die beamptes was deel van die Vrystaatse Misdaadintelligensie-eenheid en was op spesiale diens in Limpopo. Die jongste van die drie, Senoge, was gestasioneer by die Parkweg-polisiestasie en het in die gemeenskapsdienssentrum gewerk.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.