On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Glen-kollege heropen ná protesoptrede

───   ZENANDE MPAME 10:35 Mon, 05 May 2025

Glen-kollege heropen ná protesoptrede | News Article
Glen-kollege heropen ná protesoptrede. Foto: Facebook/DA

Die Landboukollege Glen hervat Dinsdag (6/5) sy normale akademiese bedrywighede nadat die instelling in Maart gesluit het weens studente se protesoptrede.

Die kollege heropen reeds Maandag sy deure sodat studente na die kampus buite Bloemfontein kan terugkeer, en sal ook ’n oriëntasieprogram aanbied om sy reëls en bepalings opnuut by studente tuis te bring.

Studente het op Woensdag 19 Maart teen haglike lewensomstandighede betoog. Hulle was ook ontevrede met die toestande in die koshuise en onopgeloste probleme met instandhouding.

“Aansienlike vordering is gemaak met koshuisherstelwerk, waaronder die vervanging van deure en herstel van elektriese en loodgietersprobleme,” sê Moliehi Moeng, woordvoerder van die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling.


Sy voeg by die herstelwerk is uitgevoer om te verseker studente keer terug na ’n veilig en ondersteunende omgewing in die koshuise. Die kollege het ’n akademiese herstelplan opgestel om te verseker dat verlore tyd weens die sluiting ingehaal word.

Die plan behels onder meer ’n hersiene akademiese kalender met ’n korter wintervakansie in Junie en Julie, wat beteken die kollege heropen vir die derde kwartaal op 25 Julie.

Tydens hul protesoptrede wou studente probleme onder die bestuur se aandag bring, soos onbetroubare water- en kragvoorsiening, asook die swak instandhouding van infrastruktuur in die koshuise.

Studente het gekla oor stukkende deure. Foto: Facebook

Hulle het gekla oor afvoerpype wat gedurig verstop is, stukkende deure en kamers wat selde skoongemaak word.

“Hierdie aanpassing verseker dat alle onderrig en assessering afgehandel word sonder om onnodige druk op die studente te plaas terwyl ons goeie uitkomste ondersteun,” sê Moeng.

“Benewens die instandhoudingsverbeterings het die departement ook opgetree om die leierskap te versterk deur C.P. Swart as waarnemende prinsipaal en L. Mariti as adjunkprinsipaal aan te stel,” sê sy. Albei is hoogs ervare aangesien hulle as hoofde van landbouskole opgetree het. Hul ervaring sal die orde herstel, dissipline handhaaf en Glen opnuut op uitnemendheid help toespits.

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.