On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret and John
Listen Live Streams

Central SA

Besoekers sprakeloos oor skouspelagtige Augrabies

───   KAREN VAN DER BERG 14:32 Mon, 05 May 2025

Besoekers sprakeloos oor skouspelagtige Augrabies | News Article
Die Augrabies-waterval het besoekers die naweek bekoor. Foto: Marina Venter

“Daar is geen manier wat ek die grootsheid hiervan kan beskryf nie. Dit slaan my asem weg en steel my woorde.”

Marina Venter van Bethlehem is sprakeloos nadat sy die naweek gelukkig genoeg was om die Augrabies-waterval, in die Kakamas-omgewing, te sien waar dit Sondag teen 4 553 kumek gevloei het.

Venter vertel die sproei en die mis van die waterval wat deur die wind veroorsaak is, is iets wat sy nog nie vantevore gesien het nie.

“Ek was in 2022 ook by Augrabies gewees toe die water baie sterk gevloei het. Maar hierdie keer het ek daar gestaan en die skouspel wat voor my afgespeel het, het net my asem weggeslaan. ’n Mens voel ongelooflik nietig wanneer jy daar staan.”


Venter vertel oral waar sy in die Noord-Kaap gery het, staan die water in die veld. “Die vlaktes lê vol water. Dit is ’n ongelooflike gesig om te aanskou.”

Sy sê die foto’s wat sy geneem het, is ’n flou poging om iets van die wonderwerk te wys. Sy was te bang om haar kamera of selfoon in die water te verloor en moes deur ’n plastieksakkie geneem het. “Ek het met my oë foto’s geneem, die sproei in my gesig opgeneem en die herinnering in my onthou-lêers gebêre.”

Marina Venter vertel sy het nog nooit die Augrabies-waterval in die Kakamas-omgewing só gesien nie. Foto verskaf

Daleen Osborne, van Virginia, sê dit was haar eerste keer by die Augrabies.

“Dit was ’n ongelooflike ondervinding. ’n Mens besef net hoe groot is God. En hoe groot is sy handewerk dat Hy al die water in die see kan laat vloei en die see weer kan skoon was. Ek is steeds sprakeloos. Ek wens elke mens in Suid-Afrika kan dit sien.”

Daleen Osborne sê sy is steeds sprakeloos. Hier is die sproei van die waterval. Foto verskaf

Intussen sê Neil van Niekerk, van Kakamas se Watergebruikersvereniging, dinge gaan rof by hulle om almal te probeer veilig hou van die water.

Hulle het reeds slote en noodwalle gebou om oorstromings te probeer voorkom. “Die rivierhoogte by die Kakamas-brug staan op die oomblik op 10,8 m met ’n vloei van 4 754 kumek.”

Dit oorskry op die oomblik 2023 se hoogwater en is effens laer as 2011 se hoogwater.

Hy sê volgens hul voorspelling kan die maksimum tot by 4 996 kumek styg, gegrond op die vrystelling van die water uit die twee hoofdamme, naamlik Vanderkloof en Bloemhof. 

Hy sê die situasie is ernstig. “Maar die keerwalle help reeds om groot skade en oorstromings op die hoofroete, die N14, te voorkom.”


Daar is reeds plase wat onder water is en boere ly groot finansiële skade. Dit gaan vir die volgende paar dae voortgaan. “Dit plaas druk op almal en al ons stelsels. Die Watergebruikersvereniging bly daartoe verbind om ons lede teen die gevolge van die hoë watervlakke te beskerm.”

Hy sê hulle werk aktief saam met die owerhede om skade in die gebied te verhoed.

OFM Nuus/Karen van der Berg cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.