Central SA
Vrystaatse ouerpaar in hof ná kinders doodbrand─── ZENANDE MPAME 15:05 Mon, 05 May 2025

Die Vrystaatse polisie ondersoek ’n saak van kinderverwaarlosing en hou ook ’n geregtelike doodsondersoek nadat twee jong kinders van Reitz in ’n brand omgekom het.
’n Babadogtertjie (sewe maande) en ’n seuntjie (18 maande) is na bewering alleen in ’n plakkershut gelaat toe dit Saterdagaand (3/5) aan die brand geslaan het. Hulle het onherkenbaar verbrand.
Die ouers (23 en 25) sou Maandag (5/5) in Reitz se landdroshof verskyn op ’n aanklag van kinderverwaarlosing, sê brig. Mmako Mophiring, Vrystaatse polisiewoordvoerder, maar die saak is uitgestel na 12 Mei. Die oorsaak van die brand sal deur ’n forensiese ondersoek bepaal word.
Na bewering het die ouers ’n plaaslike drinkplek besoek toe ’n inwoner hulle laat weet die plakkershut brand. Toe hulle tuiskom, was die polisie en inwoners van die buurt reeds daar en het dit duidelik geword dat die kinders alleen gelos is.
Die polisie ondersoek sake van kinderverwaarlosing en doen ook ’n geregtelike doodsondersoek.
Intussen ondersoek Bloemspruit se polisie by Bloemfontein steeds ’n soortgelyke tragedie wat op Saterdag 22 Maart afgespeel het toe ’n vrou (43) en haar twee kinders (drie en agt jaar oud) in ’n brand gesterf het.
Volgens brig. Mahlomola Kareli het voorlopige ondersoeke aangedui dat die brand in ’n aparte vertrek ontstaan het, moontlik weens ’n kers wat tydens beurtkrag aangesteek is. Die oudste seun, in sy twintigs, was nie tuis nie.
Hy het glo die hut gesluit en winkels toe gegaan.
Toe hy terugkeer, het hy die hut in vlamme gevind en het bure probeer help met emmers water, maar die brand was reeds buite beheer. Paramedici het drie sterfgevalle op die toneel bevestig.