On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Ondersoek begin ná brand by spogskool in Kimberley

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:22 Tue, 06 May 2025

Ondersoek begin ná brand by spogskool in Kimberley | News Article
Amptenare nou tyd gegee om omvang van skade te bepaal en met die opruimingsproses te begin. Foto: Facebook/DFA

’n Ondersoek is aan die gang om die oorsaak van die brand te bepaal wat by ’n privaat skool in Kimberley ontstaan het.

’n Brand het Maandagaand (5/5) in die historiese Nazareth-huis by die St Patrick’s CBC-skool in Kimberley uitgebreek. Die gebou, wat as seuns-en-meisieskoshuis dien, is oornag in vlamme gehul, wat die noodontruiming van al 48 kosgangers en personeel tot gevolg gehad het.

Craig Neave, CBC-skoolhoof, het aan OFM Nuus bevestig dat daar ’n brand in die koshuis was. “Alle leerders en personeel het [die gebou] ontruim en is veilig. Hoewel daar uitgebreide skade aan die geboue is, is ons dankbaar dat daar geen beserings was nie. 

“Ons dink aan die koshuisgangers en koshuispersoneel wat baie van hul persoonlike besittings verloor het. Ons sal die skoolgemeenskap op hoogte hou van enige verdere ontwikkelinge.”


Video: Facebook/DFA

Neave sê ook dat sommige van die meisies se matriekafskeidrokke in die brand vernietig is. Die matriekafskeid vind Saterdag (10/5) plaas.

In reaksie op die voorval het die skool die opskorting van alle klasse vir Dinsdag aangekondig om amptenare tyd te gee om die omvang van die skade te bepaal en die opruimingsproses te begin.

Leerders elders gehuisves

Klasse sal na verwagting op Woensdag (7/5) hervat word en koshuisgangers en personeel sal vir eers in die koshuis van die Kimberley Girls’ High School bly.

Volgens Neave het die koshuiskinders dringend toiletware, klere (veral vir seuns van 13–18 jaar), skryfbehoeftes en beddegoed nodig. ’n Toegewyde rekening is oopgemaak vir mense wat verkies om ’n finansiële bydrae te lewer.

“Maaltye is gereël vir alle geaffekteerde leerlinge en personeel, en alle ondersteuning maak reeds ’n werklike verskil.”


Donasies kan by die administrasiekantoor afgelaai word, of kontak gerus Andries van der Merwe – 084 242 2220; Peter Hauman – 071 073 5549; of Francis Hloma – 072 031 9752 om alternatiewe reëlings te tref.

Nazareth-huis, ’n bekende struktuur op die skoolterrein, staan al dekades lank as ’n plek van sorg en later as verblyf vir skoolleerlinge. Oorspronklik gestig as deel van die uitreikmissie van die Susters van Nasaret, word die gebou lank reeds geassosieer met opvoeding en geestelike vorming in die Katolieke tradisie. Oor die jare het dit ontwikkel van ’n kloosterfasiliteit tot ’n koshuis wat leerlinge huisves.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.