Central SA
Parys-ma soek hulp om vermiste dogter (16) op te spoor─── ZENANDE MPAME 14:13 Tue, 06 May 2025

Vrystaat-polisie vra hulp om ’n tiener van Tumahole op te spoor wat al vyf dae vermis is.
Deidra Bonolo Seitheiso (16) is laas Donderdagmiddag (1/5) by ’n vulstasie in Parys gesien en het sedertdien nog nie weer huis toe gekom nie.
Seitheiso was geklee in ’n kleefbroek, ’n kort, pienk toppie en swart Superga-stewels. Sy is klein van postuur en van gemiddelde lengte.
Sy het na bewering ’n taxi geneem om ’n vriendin in Parys te besoek, maar sy het nooit weer teruggekom huis toe nie.
“Ek wil net vir my dogter sê: Kan jy asseblief huis toe kom? Ons mis jou vreeslik baie – selfs jou jonger boeties mis jou baie,” sê Adri Seitheiso, Deidra se ma. “Ons soek orals na jou. Kan jy asseblief net huis toe kom?
“As ek jou op enige manier seergemaak het, vra ek opreg om verskoning. As ek iets gesê het waarvan jy nie gehou het nie, is ek regtig jammer daaroor – maar ek smeek jou, asseblief, kom huis toe,” sê sy.
‘Die taxi het haar glo by ’n vulstasie in Parys afgelaai’
Seitheiso het Donderdag ’n boodskap van Deidra se vriendin af ontvang, waarin sy gevra is dat Deidra ’n paar dae langer bly. Die boodskap het verder gesê dat sy Saterdag sou terugkeer, maar sy het nooit teruggekom nie.
’n Saak van ’n vermiste persoon is by die Tumahole-polisiekantoor aanhangig gemaak toe sy nie teruggekom het huis toe nie. “Iemand het gehoor hoe die Parys-leerder met iemand oor die foon praat – ’n onbekende persoon – en sê sy is op pad Johannesburg toe,” sê Josephine Rani, Vrystaat-polisiewoordvoerder.
“Die taxi het haar glo by ’n vulstasie in Parys afgelaai en sy het sedertdien nie weer huis toe gekom nie.”
Deidra word nou al vyf dae vermis. Foto verskaf
Enigiemand met inligting oor waar sy haar bevind, word versoek om speursers. Mzwandile Caleni te kontak by 082 465 3140, of om Stop Misdaad by 08600 10111 te skakel.
Die polisie raai enigiemand wat vermoed dat ’n geliefde vermis is aan om dit onmiddellik by hul naaste polisiekantoor aan te meld. Die aanmelding moet vergesel wees van die mees onlangse foto van die vermiste persoon, inligting oor wat die persoon aangehad het en waar hy of sy laas gesien is.
“Die SAPD bly toegewyd aan sy mandaat om alle mense in Suid-Afrika te dien en te beskerm,” sê Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder. “Ons wil almal daaraan herinner dat daar geen wagtydperk is om ’n geliefde as vermis aan te meld nie.”
OFM News/Zenande Mpame mvh/cg