Central SA
Polisie in Vaaldriehoek ondersoek NWU-student se dood─── ZENANDE MPAME 12:17 Wed, 07 May 2025

Die polisie op Vanderbijlpark ondersoek die dood van ’n NWU-student wie se liggaam in ’n dam op die kampus gekry is.
’n Tuinwerker het die afgelope week op die student se oorskot afgekom en die kampus se beskermingsdienste ontbied.
Die oorledene, Mojalefa Nthebe (20), ’n tweedejaarstudent in Industriële Sielkunde, het geen merkbare beserings gehad nie, sê Sabelo Sigcu, Gautengse polisiewoordvoerder. “Ons betuig ons meegevoel met Nthebe se naasbestaandes en vriende,” sê Louis Jacobs, NWU-woordvoerder.
Nthebe was ’n tweedejaarstudent in Industriële Sielkunde by universiteit. Foto verskaf
“Die universiteit sal berading bied aan diegene wat dit nodig het.”
Die voorval is by die polisie aangemeld, wat dit ondersoek, sê Jacobs. “Ons beskermingsdienste bied alle nodige bystand aan die polisie in hul ondersoek,” maar omdat die polisie ondersoek instel, kan die NWU geen nadere besonderhede bekendmaak nie.
Die polisie vra enigeen wat moontlik lig op die student se dood kan werp, om die ondersoekspan anoniem by 071 675 7246 te bel of Stop Misdaad by 08600 10 111.
‘Tweede NWU-student wat die afgelope week sy lewe verloor het’
’n Gedenkdiens is Woensdag (7/5) by die Kumba-saal op die Vanderbijlparkkampus vir Nthebe gehou.
Dis die tweede NWU student wat die afgelope week sy lewe verloor nadat Vilano Saunders (20), Maandag in die Sebokeng-hospitaal aan ’n nekbesering oorlede is.
Saunders is Saterdag tydens die eerste halfuur van ’n wedstryd vir die NWU o. 21-span op die NWU-kampus ernstige beseer. Hy is na die Midvaal-Hospitaal gehaas, waar CT-skanderings die erns van sy toestand getoon het.
“Hy is oorlede nadat die swelling van die besering só erg geword het dat dit die funksie van die area in sy rugmurg wat die diafragma beheer, belemmer het,” sê Caitlin Venter, sy meisie. “Die dokter het gesê dat indien hy oorleef het, sou hy waarskynlik ’n kwadrupleeg gewees het, en hy sou nie lank geleef het nie as gevolg van die rugmurgskade.”
Begrafnisreëlings is nog nie getref nie, aangesien Saunders ma en suster, wat albei in China werk, nog op pad terug is na Suid-Afrika.