Central SA
Klerksdorp-moordsaak: Kruisondervraging begin─── CHARNÉ VAN DER MERWE 16:55 Wed, 07 May 2025

Die eerste getuienis in die Klerksdorpse moordverhoor sal Donderdag (8/5) deur die verdedigingspan onder kruisondervraging staan.
’n Emosionele Natasha van der Merwe (voorheen Fisher) was Woensdag (7/5) die eerste persoon wat haar weergawe gegee het van die gebeure in ’n plaaslike parkeerterrein.
Van der Merwe was destyds die meisie van die beskuldigde, Wernich Botha, en die eksmeisie van die oorledene, Hilton Pretorius. Botha verskyn op aanklagte van moord op Pretorius en poging tot moord op die plaaslike sakeman PW Roos ná ’n voorval in September 2023.
Natasha van der Merwe in die getuiebank. Foto: Charne van der Merwe
Dié saak word in die Klerksdorp-streekshof aangehoor. Van der Merwe getuig dat sy op 1 September omstreeks 12:00 by die huis aangekom het.
Nie lank daarna nie het Pretorius na haar huis gekom, waar die twee ’n kort gesprek gehad het. Sy het omstreeks 20:00 vir Pretorius gesê sy gaan slaap, terwyl hy buite gerook het.
Van der Merwe is glo tussen 00:00 en 01:00 deur Botha, wat haar op die skouer getik het, wakker gemaak. Op daardie stadium het Pretorius langs haar gelê en slaap.
‘Moet ek jou ook slaan?’
Sy getuig dat Botha, wat in Somalië gewerk het, onverwags by die huis opgedaag het. Botha het glo oor haar geleun en Pretorius twee keer op die wang met ’n vuis bygedam.
Hy is van die bed afgeruk en het op die grond beland waarna Botha uit die kamer geloop het. Van der Merwe het hom na buite gevolg waarna Pretorius, wie se neus en mond gebloei het, ook uit die huis gekom het.
Hy het Botha gekonfronteer en gevra: “Moet ek jou ook slaan?” Van der Merwe het tussen hulle gestaan en probeer om ’n verdere vuisgeveg te voorkom.
‘Pretorius het haar aanhoudend gebel’
Pretorius het in sy motor geklim en weggery, terwyl Botha kortliks met Van der Merwe gepraat het voordat hy ook weggery het. Volgens Van der Merwe het sy verder op die rusbank gaan slaap.
Sy is ongeveer 04:00 weer deur Botha wakker gemaak wat glo gesê het hulle moet in die kamer gaan slaap. Omstreeks 09:00 op 2 September het Van der Merwe en Botha aangetrek en ontbyt gaan eet.
Hulle het ’n paar ander plekke besoek voordat hulle omstreeks 16:00 na die plaaslike kroeg, Cadillacs, is. Van der Merwe getuig dat Pretorius haar aanhoudend gebel het terwyl hulle in die motor was.
‘Botha was reeds op pad na Pretorius’
Hoewel sy die oproepe geïgnoreer het, het hy aanhou bel. Sy het vir hom gesê om op te hou, maar hy het nie. Volgens haar het Botha die telefoon beantwoord, met Pretorius gepraat en hom meegedeel dat hulle by dié spesifieke kroeg was.
Van der Merwe sê toe hulle by die kroeg aankom, het hulle drankies en shooters bestel. Ná ’n paar minute het sy omdraai en opgemerk dat Botha nie meer agter haar was nie.
Sy het buitentoe geloop en Pretorius en Botha aan weerskante van haar gesien. Sy het na Botha gehardloop, maar hy was reeds op pad na Pretorius.
Hilton Pretorius se familie. Foto: Charne van der Merwe
Volgens Van Der Merwe het Pretorius eerste op Botha afgestorm en hom gevloek. Sonder enige gesprek tussen die twee het Botha vir Pretorius geslaan, wat veroorsaak het dat hy op die grond geval het.
Van der Merwe vertel dat Pretorius se mond ná die hou gebloei het en sy was bang dat hy aan sy eie bloed sou verstik. “Ek het sy kop opgelig om te help, en Botha het hom ook bygestaan.”
Terwyl hulle gewag het vir ’n ambulans het ’n paar mense, insluitend Roos, gekom om te help. Van der Merwe het ook in die hof getuig dat Botha vir Roos geslaan het, maar beweer dat dit nie opsetlik was nie.
‘Wil nie by die saak betrokke wees nie’
Sy verduidelik dat Roos blykbaar aan Botha se skouer geraak het terwyl hy Pretorius gehelp het. Botha het instinktief gereageer deur hom te slaan.
Roos, wat Woensdag by die hof was, het aan OFM Nuus gesê dat hy nie by die saak betrokke wil wees nie en geen klagte teen Botha aanhangig gemaak het nie, omdat hy glo dat Botha nie bedoel het om hom te slaan nie.
Volgens Van der Merwe het Pretorius in die ambulans na haar geroep toe sy, Botha en Pieter Joubert op pad was na die hospitaal. Joubert is ook ’n staatsgetuie.
‘Ons as familie wil ’n regverdige verhoor hê’
Van der Merwe het saam met Pretorius in die ambulans gery waar hy glo aan haar gesê het dat hy lief is vir haar. Van der Merwe getuig toe Pretorius by die hospitaal aankom, het die mediese personeel vir haar gesê het dat hy te dronk was om sy beserings behoorlik te behandel en dat hulle hom net vitamiene sou gee.
Van der Merwe het buite gewag totdat Pretorius se familie opgedaag het, en is daarna huis toe. Pretorius het 18 dae ná die aanval aan kopbeserings beswyk.
Pretorius se ma, Linda Mey, sy broer, Danie Pretorius, en sy suster, Lindie Geldenhuys, het heel voor in die hof gesit. “Ons as familie is positief en wil ’n regverdige verhoor hê vir geregtigheid om te geskiet.
‘Ons het nog nie tyd gehad om Hilton se dood te verwerk nie’
“Ons werk 100% saam met die staat en hul het ons ondersteuning. Die laaste 18 maande was baie swaar, omdat ons nog nie tyd gehad het om Hilton se dood te verwerk nie.
“Dit is en bly ’n groot leemte in ons lewens. Ons is hier vir geregtigheid en glo dat die reg sy gang sal gaan en die regte uitspraak gelewer sal word. Ons bedank almal betrokke wat ons steun en ondersteun.”
Prok. Caswell Ntoyi kla aan, terwyl prok. Kobus Burger en adv. Hennie du Plessis die verdediging aanvoer.