Central SA
Vrystatertjies trek aan soos idiome om #Afrikaans100 te vier─── KAREN VAN DER BERG 12:17 Thu, 08 May 2025

Die vreugdevure brand hoog in die Vrystaat oor die honderdjarige mylpaal wat Afrikaans as amptelike taal Donderdag (8/5) vier. Reeds 5 254 weke en ses dae lank staan Afrikaans sy plek vol as ’n amptelike taal.
Jaco Jacobs en Fanie Viljoen, gesiene skrywers van Bloemfontein, het aan OFM Nuus vertel waarom hulle so lief vir die taal is.
“Oor Afrikaans wil ek soos die kunstenaar Amanda Strydom sê: Dit is die taal van sy hart,” vertel Jacobs. “Dit is taal waarin ek grootgeword het. Dit is die taal waarin ek my kinders grootmaak. En dit is die enigste taal waarin ek regtig kreatief kan wees.
Die groep gr. 3-seuns van die Laerskool Willem Postma het gewys hulle kan kreatief dink. Van links is Francois van der Berg (“Al dra ’n aap ’n goue ring, hy is en bly ’n lelike ding”), Lambertus Swanepoel (“Geld groei nie op my rug nie”), Du Preez Swanepoel (“Hy laat die aap uit die mou”), Elon Dunlop (“’n Boer maak ’n plan”) en Daniel Rautenbach (“Jy moet jou sokkies optrek”). Foto: Karen van der Berg
“Op die dag waarop ons Afrikaans as amptelike taal se honderdste verjaardag vier, gaan ek by twee skole hier in Bloemfontein kuier. Ons gaan gesels oor Afrikaans en waar dit vandaan kom. Ons gaan gesels oor hoe fantastiese voorreg dit is om in Afrikaans te lees.”
Viljoen sê die honderdjarige vieringe is ’n wonderlike mylpaal vir Afrikaans. “Hierdie is die taal waarin ons droom en grappies maak en dink en die lewe ervaar en geniet.”
Om dit te vier, is Viljoen in die Kaap waar hy na ’n paar skole gaan om Afrikaans te vier. Viljoen het ook die voorreg gehad om by die Artscape-teater met kinders uit informele nedersettings te kuier en die taal en die verjaardag van Afrikaans saam met hulle te vier.
Skole oor die provinsie heen het ook Afrikaans se verjaardag gevier.
By die Laerskool Willem Postma in Bloemfontein kon leerlinge soos hulle gunsteling-idioom aantrek.
Francois van der Berg (9) sê hy het nie geweet Afrikaans is al ’n eeu oud nie. Maar hy is trots om deel van die verjaardagvieringe te wees. Hy het gekies om aan te trek as “Al dra ’n aap ’n goue ring, hy is en bly ’n lelike ding”. Volgens Francois is dit vir hom so ’n lekker idioom omdat ’n mens baie kreatief kan aantrek om dit uit te beeld.
Nog ’n groepie leerlinge van Willem Postma het kreatief gedink met hulle idiome. Van links is die Viljoen-kroos: Josua Viljoen (“Kannie is dood van kruiwa stoot”), Leila Viljoen (“Ek kan slange vang”), Amelie Viljoen (“Dit reën katte en honde”) en hulle nefie Nihan Viljoen (“Hy het groen vingers”). Foto: Leana Viljoen
By die Laerskool Jordania op Bethlehem het leerlinge ook soos hulle gunsteling-idioom aangetrek. Karli Fourie (8) het “’n kat in die sak gekoop”.
Karli is lief vir diere en dit was vir haar maklik om die idioom te kies. Sy is ook lief vir Afrikaans omdat dit hulle gesin se taal is waarin hulle hele lewe plaasvind.
“Hipotermie is my gunstelingwoord, want ek moes lank oefen om hom in my redenaarstoespraak reg uit te spreek. Ek is lief vir Afrikaans.”