Central SA
Aantygings gemaak teen ongeregistreerde Bloemfonteinse kleuterskool─── ZENANDE MPAME 12:50 Thu, 08 May 2025

’n Bloemfonteinse kleuterskool word ondersoek ná aantygings dat kinders swak behandel is en dat die instelling nie by die provinsiale onderwysdepartement geregistreer is nie.
Mike Bolhuis, spesialisondersoeker, het ondersoek ingestel nadat hy klagtes ontvang het oor Kleuter Akademie in die voorstad Universitas. Hy het vasgestel die skool is nie geregistreer nie, kinders word na bewering swak behandel en hy beweer medisyne word toegedien sonder ouers se toestemming.
“Die grootste bekommernis is die middels wat die kinders na bewering toegedien word sonder ouers se medewete of toestemming en sonder dat nagegaan is of die kinders allergies vir enige van die bestanddele is.
“Van die ouers het ernstige kommer uitgespreek dat kinders steeds in die skool is, al het baie reeds hulle kinders uitgehaal,” sê Anthony Boucher, Specialised Security Services se kubermisdaadhoof.
“Ondersoekers het beeldmateriaal bekom wat uiters ontstellende praktyke by die instelling aan die lig bring. In een van die video’s kan gesien word hoe verskillende kinders met dieselfde lepel gevoer word wat ’n versorger afgelek het voordat sy die kinders begin voer het.”
’n Ander video wys hoe talle kinders medisyne met dieselfde inspuiting toegedien word, moontlik om hulle vir die res van die dag aan die slaap te maak, beweer hy.
Die ondersoekers het Ria Niemand, eienaar en skoolhoof, gebel waartydens sy glo erken het dat die skool nie by die onderwysdepartement geregistreer is nie.
Sy het leiding gekry oor hoe om die skool te registreer en is ’n spertyd gegee, maar blykbaar het sy later die ondersoekers in ’n e-pos laat weet sy het besluit om nie daarmee voort te gaan nie.
Ria Niemand is die eienaar en skoolhoof van Kleuter Akademie. Foto: Facebook/Ria Niemand
“Ek het die regte prosedure gevolg om my kleuterskool by die departement van maatskaplike ontwikkeling te registreer,” sê Niemand. “Met die oorgang van kleuterskole wat onder die onderwysdepartement geplaas moet word, is ek ingelig die proses sou vier maande duur.”
Sy sê ’n maatskaplike werker van die departement van maatskaplike ontwikkeling het haar verseker kleuterskole kan oopbly terwyl hulle op sertifisering van die onderwysdepartement wag, “maar toe ek die persoon wou gebel het wat vir die nuwe registrasie verantwoordelik is, was dit onsuksesvol”.
Bewerings van swak behandeling
Volgens haar is Kleuter Akademie nie die enigste funksionerende preprimêre skool wat sukkel met ’n formele registrasiesertifikaat van die departement nie.
Oor die bewerings van swak behandeling, sê sy volgens haar kennis is kinders by dié voorskool nie sleg behandel nie. “Al die klaskamers het kameras, en videomateriaal word 14 dae geberg sodat daarna gekyk kan word as daar enige kommer is. Ouers weet hulle kan dit enige tyd kom kyk.”
Sy het ook gereageer op die bewering dat medikasie sonder ouerlike toestemming aan kinders toegedien is. “Dit is onder geen omstandighede toelaatbaar om medikasie aan enige kind toe te dien tensy dit skriftelik deur die ouer versoek word nie.”
Die personeellid wat op video gesien is terwyl sy medikasie toegedien het wat nie deur ouers versoek is nie, het die perseel verlaat en nooit weer teruggekeer nie. “Ek het na die Bainsvlei-polisiekantoor gegaan om ’n klag teen haar in te dien, maar is meegedeel dat ek en die ouers nie ’n formele klag aanhangig kan maak nie aangesien geen skade berokken is nie.”
’n Navraag is aan die onderwysdepartement gestuur, wat bevestig het dat die skool besoek sal word.