On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Naln vier Afrikaans vandag en heeljaar

───   KAREN VAN DER BERG 13:15 Thu, 08 May 2025

Naln vier Afrikaans vandag en heeljaar | News Article
Annelien Diedericks, komiteelid van Naln, en dr. Inge Venter, ’n vrywillige werker, wys die skatkis van boeke in die boekemark. Foto: Karen van der Berg

Afrikaans se letterkundige skatkamer in Bloemfontein vier dié taal se honderdste bestaansjaar met oorgawe. Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) besef die omvang van Afrikaanse erfenis is groot.

Die sentrum het daarom besluit om die eeuwording van die taal heeljaar te vier. OFM saai Donderdag (8/5) tussen 12:00 en 15:00 ook regstreeks daarvandaan uit.

Annelien Diedericks, wat reeds tien jaar as Naln se museum-geesteswetenskaplike werk, sê hulle bewaar amper eenmiljoen items van die taal. “Dit is ’n lewendige museum met soveel verskillende fasette. 

Hier is boeke vir oud tot jonk. Klein Grethe van der Berg (5) blaai boeke in Naln se boekemark deur. Foto: Karen van der Berg

“Afrikaans lê ons na aan die hart en dit is ’n voorreg om te waak oor die woorderfenis.”

Om Afrikaans te vier het Naln verskeie aktiwiteite wat aangebied word. “Hier is begeleide museumtoere word aangebied.” Hulle bied ook ’n skattejag aan kinders sodat hulle die museum kan ontdek.

“Besoekers aan die museum kan ook boeke by hulle boekemark kom koop.” Daar is meer as 8 000 boeke om van te kies.

Afrikaans kry vlerke

“Die boekemark in die pragtige ou ketelkelder. Daar is ook ’n skrywersmuur met die handtekeninge van meer as honderd Afrikaanse skrywers.”

Diedericks sê hulle is ook opgewonde oor die 100 vlugskrifte wat Dinsdag (13/5) in Naln aangebied word.

“Die klinkklaar vokale en instrumentale ensemble deel in die honderdste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal met ’n program wat saamgestel is uit toonsettings van grepe uit honderd Afrikaanse gedigte. In hierdie aanbieding kry Afrikaans as’t ware vlerke, aangesien elkeen van die honderd gediggrepe oor voëls, vlerke of vere handel.”

’n Produksiespan van Johannesburg, Bonanza Films, het ook in die verjaardagvieringe van Afrikaans by Naln kom deel. Hulle is besig om ’n program vir KykNET te maak, Die stories van Afrikaans, wat op Sondagaande uitgesaai word. Die produksiespan van links is Frankie Opperman, Jean de Villiers en Willem van den Heever. Foto: Karen van der Berg

Joanita Erasmus-Alt is verantwoordelik vir die toonsettings, waarin meer as 40 digters se gedigte gebruik is.

In verdere feesvieringe word Afrikaans ook gevier op die Vrystaat Kunstefees, wat van 15 tot 19 Julie op die Kovsiekampus in Bloemfontein aangebied word. Naln bring hulde aan helde, die digter Peter Blum gesels en Corlia Fourie en prof. Nico Luwes word gevier.

Die erfenis van Naln is ongekend. Hier is die studeerkamer van D.F. Malherbe wat manalleen baklei het om Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite te vestig. Foto: Karen van der Berg

Dr. Inge Venter, komiteelid van Naln wat twee dae per week as vrywillige werker hier diens doen, sê sy doen dit vir die voortbestaan van Afrikaans. 

“Afrikaans is my moeder. Alles wat ek is en wat ek doen is Afrikaans.”

  • Naln is geleë op die hoek van Pres. Brand- en Miriam Makebastraat, Bloemfontein. Die Ou Goewermentsgebou se 150ste bestaansjaar word op Saterdagoggend 31 Mei 2025 om 10:00 gevier.
  • Toegang tot die 100 vlugskrifte wat op 13 Mei by Naln aangebied word, is gratis. Vrywillige donasies ten bate van Klinkklaar word verwelkom. RSVP: annelien.naln@gmail.com

OFM Nuus/Karen van der Berg cg/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.