On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Ashmund
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Twee vermeende veediewe by Upington vasgetrek

───   08:55 Sat, 10 May 2025

Twee vermeende veediewe by Upington vasgetrek | News Article
Die regmatige eienaars van die vee is tans onbekend. Foto verskaf

Noord-Kaapse polisielede in die ZF Mgcawu-distrik vra hulp van enigiemand met inligting wat kan help om die eienaars van gesteelde beeste in die Upington-omgewing te identifiseer.

Die polisie het Donderdagaand (8/5) op inligting gereageer oor moontlike misdaad op ’n weiveld naby Upington. 

Die inligting is opgevolg met die hulp van gespesialiseerde SAPD-eenhede, insluitend die Upington Veediefstal en Bedreigde Spesies-eenheid, Upington Plattelandse Veiligheid, en die Upington Snelwegpatrollie.

Die regmatige eienaars van die vee is tans onbekend. Foto verskaf

Die multi-dissiplinêre span het ’n taktiese operasie in die geïdentifiseerde gebied uitgevoer, wat gelei het tot die inhegtenisneming van twee verdagtes, 37 en 39 jaar oud. Dertien vermoedelik gesteelde beeste, ter waarde van R130 000, is op die toneel gevind.

Maj.-genl. Monica Sebili, die ZF Mgcawu-distrikskommissaris, het die span geloof vir hul toewyding en deurlopende pogings om misdaad te bekamp, sê sers. Molefi Shemane, polisiewoordvoerder.

Die regmatige eienaars van die vee is tans onbekend. Die polisie vra die publiek om na vore te kom indien hul vee vermis word. Hulle moet dit by hul naaste polisiekantoor aanmeld en die vee opeis. Hulle moet egter in staat wees om bewys van eienaarskap te lewer.

Gemerkte diere vergemaklik identifikasie. Foto verskaf

Veeboere word weer daaraan herinner om hul diere te merk vir makliker identifikasie en so te help om veediefstal te bekamp.

Enigiemand met inligting wat kan help om die eienaars te identifiseer, word versoek om die Upington Veediefstal- en Bedreigde Spesies-eenheid te bel by 079 529 3930 / 082 454 4849 / 054 337 3460/1, of bel die Stop Misdaadnommer by 08600 10111. Die MySAPS-app kan ook gebruik word. 

Alle inligting sal met die grootste vertroulikheid hanteer word.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.