On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Meer as R6 miljoen nodig om Bloemfontein-dieretuin te heropen

───   ZENANDE MPAME 13:23 Mon, 12 May 2025

Meer as R6 miljoen nodig om Bloemfontein-dieretuin te heropen | News Article
Meer as R6 miljoen is nodig om Bloemfontein se dieretuin te heropen. Foto: Gypseenia Lion

Mangaung se burgemeester sê planne is op dreef om Bloemfontein se dieretuin teen ’n geskatte koste van meer as R6 miljoen te heropen.

Die uitvoerende bestuurspan het reeds ’n heropening in fases goedgekeur, was burgemeester Gregory Nthatisi se woorde op ’n perskonferensie  Vrydag (9/5) in Mangaung se munisipale hoofkantoor.

’n Spesiale raadsvergadering in Maart het besluit die dieretuin moet na opknapping teen 2028 heropen. “Ek wil glo Bloemfonteiners is verkeerdelik van die dieretuin ontneem,” sê Nthatisi gesê. 


“Danksy al die agtergrondinligting wat ons reeds het, het ons besluit om dit te laat herleef en weer aan die mense van Mangaung te bied.” Hy meen die dieretuin moet “gebruikersvriendelike” diere huisves ter wille van die mense van die metro, wat die instelling hoofsaaklik vir ontspanningsdoeleindes sal gebruik. 

“Dit sal geld kos, en die geskatte R6 miljoen is eintlik min. Dié geld sal gebruik word om die dieretuin te restoureer, personeel en werkers te werf en diere daarvoor te bekom,” sê die burgemeester.

Bloemfontein Courant het voorheen berig dr. Thabang Thinda, Mangaung se hoof van gemeenskapsdienste, ’n versoek aan die stadsbestuurder gerig het om 59 tydelike werkers aan te stel, onder wie ’n veearts, opvoedkundige beamptes, ornitoloë, herpetoloë, plantkundiges, ’n hoofvoeldoeningsbeampte, veldwagters en kombuispersoneel.

Die heropening behels verbeterings aan die omgewing, sowel as die herbekendstelling van diere. “Die herstelwerk en opknapping het verlede jaar begin en sal in fases voortgaan, waarna die dieretuin (na verwagting) teen 2028 ten volle in bedryf sal wees,” sê Thinda.

Die burgemeester sê verder al die nodige stappe is gevolg om uiteindelik te heropen. Hy erken daar was teenstand uit sekere oorde, maar die metro skakel met diegene wat gekant is teen die dieretuin.

Die hooggeregshof in Bloemfontein het in September beslis die dieretuin word belet om enige bedreigde of beskermende diere aan te hou tensy die nodige permitte daarvoor bekom word. Die hof het ook gelas dat die instansie slegs mag heropen as ’n behoorlike begroting opgestel word om dit wettig en volhoubaar te bedryf.

OFM Nuus/Zenande Mpame mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.