Central SA
NAMPO 2025: Waar masjiene… en styl gekry word!─── 12:00 Tue, 13 May 2025

Terwyl die manne vasgenael staan by meganisasie-demonstrasies, reuse-trekkers, of die nuutste landboutegnologie bewonder, het die vroue vanjaar hul eie speelplek by NAMPO 2025 en is daar meer as ooit om te sien, te koop en te beleef!
Kamers Vol Geskenke bied “Kamers in ’n Koffer” met pragware te koop in die helder markiestent reg langs die Hopefield-saal.
Die opwinding rondom hierdie handelsmerk is te verstane – ’n boetiek-seleksie van wonderlike geskenke deur Kamersmakers.
Dirkie van der Merwe vertel aan Elzette Boucher-Kruger, OFM-inhoudsredakteur, dat Kamers met ’n nuwe konsep vorendag gekom het.
“Ons het voelers uitgesteek om te kyk of ons dalk by ander plekke kan uitkom wat ons gewoonlik nie kan dek nie, om te kyk hoe lyk dinge vir ons in die (plattelandse) gemeenskap.
“En dis nou ons eerste probeerslag plaaslik, ons noem dit ‘Kamers in ’n Koffer’. Jy weet, dis baie meer kompak, so nie baie van die makers is self hier nie, maar omtrent 42 handelsmerke word hier uitgestal.
“Ons winkel is kompak, maar daar is báie lekker en mooi goeters. Ek dink dit behoort ’n nuwe geur te bring na Nampo Park. Dit is waarna ons mik. Mense moet kom kyk en asseblief vir ons terugvoer gee, want dit sal vir ons ook help vorentoe.”
“Kamers in ’n Koffer” bied handgemaakte kuns, leefstylprodukte en plaaslike vakmanskapprodukte – van leerskoene tot pajamas, juweliersware, houtborde en olyfolie.
“Daar’s rêrig nogal baie om te sien. Kom stap in die gangetjies rond en kyk waarvan jy hou. Daar is definitief ’n geskenk vir iemand, of een áán jouself ván jouself. Dis in ’n groot tent wat baie kleurvol gemerk is met pienk, pers en turkoois vlae, julle kan dit nie miskyk nie!”
Landbouweekblad en Syngenta se Plaaskombuis. Foto: Elzette Boucher-Kruger
Die proteïenparadys, die Syngenta Boerekos Plaaskombuis, se spyskaart is opgekikker en sluit heerlike geregte van bees, hoender en vark in – van bros hoenderrepies en varknek met vinkel, tot sappige beesvleissosaties en Angus-borsstuk op varsgebakte platbrood.
Ook ’n dubbele bees-en-kaasburger van Sewe Slabberts is op die spyskaart.
In Landbouweekblad en Syngenta se plaaskombuis val die klem op plaasvars produkte en moderne geure. Dié restaurant – geleë aan die suidwestekant van Nampopark, naby die 4x4-baan – is daagliks van 09:00 tot 16:00 oop, en as jy nie vroeg in die ry is nie, gaan jy waarskynlik met ’n grommende maag wegstap.
Volgens Arina du Plessis, redakteur van Boerekos en die kreatiewe krag agter die Plaaskombuis, word vanjaar met sowat 2,5 ton vleis gewerk.
“Ons het 18 studente van The Roots Academy en drie sjefs in die span. Daar is ook 15 personeellede wat verantwoordelik is vir kombuiswerk, verkope en terreinondersteuning,” sê sy.
Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, sê die Plaaskombuis is veel meer as net ’n eetplek. “Ons bied nie net maaltye aan nie – ons bemark boere se produkte direk aan verbruikers. Hierdie is ’n viering van die plaas, die produk en die bord.”
Vanjaar word beoog om meer as 10 000 etes hier voor te sit.
Die gewilde Alpha Insure Vroueprogram keer terug na ’n splinternuwe ligging langs die Polkadot-teetuin. Dit beloof ’n stylvolle, inspirerende en prettige ervaring vir vroue van alle ouderdomme.
Of jy nou op soek is na mode, dekor, geskenke, tuinidees of net ’n plek om te ontspan met ’n koppie koffie – Nampo het iets vir jou.
Wat is nog nuut by NAMPO 2025?
’n Nuwe museum is opgerig deur Santam en belig die ryk geskiedenis van Graan SA en NAMPO.
’n Splinternuwe karavaanpark naby Hek 2 is gebou met 100 staanplekke en twee ablusieblokke. “Die staanplekke is almal 10x10 m en elke staanplek het sy eie kragpunt. Dit is loopafstand van Nampo se ingang. Die twee ablusieblokke is baie mooi en netjies gebou,” sê die organiseerder Louisa Esterhuizen.
Kontak haar op 079 900 7266 of kleinbroekontvangs@gmail.com
OFM bied regstreekse uitsendings vanaf NAMPO Park. Foto: OFM
Daar is aan die anderkant van NAMPO Park ook akkommodasie in tente beskikbaar: Stel jou voor – bekoorlike seiltente gemeubileer met knus beddens en duvets, kompleet met elektriese lampe en kragpunte om jou toestelle te laai.
Geniet die warmte van ’n kaggel in ’n knus ontspanningsarea en eetarea onder ’n markiestent. Word wakker met die aroma van varsgebroude oggendkoffie en geniet ’n heerlike buffet-ontbyt en aandete.
Dit alles is gerieflik geleë net ’n kort entjie van NAMPO Park af en bied maklike toegang.
Werd om te weet
Die gewilde Mielie Hop-pendeldiens word vanjaar vir die 15de jaar voortgesit. Die diens bied lang- en kort-afstandritte na en van NAMPO Park. Pendelaars op NAMPO Park klim by ‘n eksklusiewe hek – wat ook vir gestremdes aangepas is – op en af.
Daar is plaaslike ritte tussen Bothaville en NAMPO Park en langafstand-roetes na Pretoria en Johannesburg, asook Bloemfontein, beskikbaar. Passasiers kan ook op spesiale versoek tussen O.R. Tambo/Lanseria en Bothaville/NAMPO Park vervoer word.
Vir enige navrae oor die roetes, tye en besprekings, kontak Hettienne: 083 439 1140.
Daar sal ook spesiale Pop Up Radio-aktiwiteite by uitgesoekte uitstallers wees. Foto: OFM
Die 4x4-hindernisbaan is opgegradeer en daar is nou ’n nuwe roete vir motorfietse, vierwielmotorfietse en meer. Dit is geleë in die nuwe deel van die terrein.
Vir die eerste keer sal ’n internasionale afslaerskompetisie plaasvind in die afslaerskompleks.
’n Jeugskou sal daagliks in die bees- en perdarena plaasvind, waar jong deelnemers hul vaardighede met mini-perde, Limousin- en Brahman-beeste demonstreer.
Die NAMPO-app bied nou verbeterde toegang tot uitstallers en hul ligging met die terreinindeling op jou foon. Jy kan uitstallings merk, virtuele 3D-toere van die terrein neem en jou pad na enige uitstaller vind.
OFM bied regstreekse uitsendings vanaf NAMPO Park, insluitend Mid-Morning Magic en At Lunch, sowel as ’n toegewyde Agri Uur van 11:00 tot 12:00, Maandag tot Vrydag. Daar sal ook spesiale Pop Up Radio-aktiwiteite by uitgesoekte uitstallers wees en kry ietsie nuuts by OFM CLOSET se klerereeks.
Die gewilde plaaspatentkompetisie vir boere keer terug, met nuwe kategorieë vir skole en studente. Besoekers kan nuutskeppings in verskeie kategorieë sien, insluitend nuwe, gemodifiseerde, gereedskap, huis en tuin, en ’n oop kategorie.
Boere wat toerusting uitgevind, ontwerp of aangepas het om hul eie praktiese probleme op te los, word genooi om hierdie uitvindings met hul mede-boere te deel. Geen gepatenteerde produkte mag ingeskryf word nie, maar aanloklike pryse word aangebied, wat ’n groot aantal inskrywings in elk van die verskillende kategorieë verseker.
’n Boer maak ’n plan! Foto: Elzette Boucher-Kruger
Besoekers moet hul tyd neem om alle sektore van die skou te besigtig, van vee tot rekenaars. Die praktiese demonstrasies van implemente en masjinerie is ’n unieke kenmerk en onderskei die NAMPO Landbouhandelskou van enige ander landbouskou.
Dit stel die boer in staat om landboutoerusting op ’n vergelykende en nie-mededingende basis onder volle werksomstandighede te besigtig.
NAMPO 2025 is die ideale geleentheid om die jongste landbou-innovasies te ontdek, kennis te deel en nuwe vennootskappe te bou, terwyl vroulief nie agterbly nie.
OFM Agri mvh