Central SA
NWU verloor derde student binne ’n week─── ZENANDE MPAME 15:40 Mon, 12 May 2025

Die Noordwes-Universiteit is weer in rou gedompel, dié keer oor die dood van ’n onderwysstudent.
Leithen Louw, ’n derdejaar, het sy lewe laat Vrydagaand (9/5) verloor naby sy ouerhuis op Robertson in die Boland nadat hy raakgery is.
Mojalefa Nthebe se liggaam is ’n week tevore gekry waar dit in ’n dam op die NWU se kampus op Vanderbijlpark gedryf het, terwyl Vilano Saunders (20) gesterf het weens ’n rugbybesering. Hulle was al drie 20 jaar oud.
Nadoodse ondersoek
Nthebe is Saterdag begrawe, maar Saunders se naasbestaandes wil eers ’n nadoodse ondersoek laat uitvoer om te help in die ondersoek.
Die universiteitsgemeenskap is geruk deur Louw se dood. “Dit is baie sleg vir die universiteit, veral omrede dit … die derde student is wat ons in ’n week se tyd verloor,” sê Louis Jacobs, NWU-woordvoerder.
“Direk nadat die voorval aan die universiteit bekend geword het, is berading gereël vir sy medestudente en ander inwoners van die koshuis waar hy tuis gegaan het op die Potchefstroomkampus.”
Die verdagte het na bewering op die vlug geslaan kort nadat hy Louw raakgery het. Hy is op slag dood. Potchefstroom Herald berig Robertson se polisiebeamptes het flink gereageer en die bestuurder kort daarna in hegtenis geneem.
Die 40-jarige het Maandag vlugtig voorgekom in die plaaslike landdroshof op aanklagte van dronkbestuur en strafbare manslag.
Die Hombré-manskoshuis, waar hy gewoon het, beskryf hom as “meer as net ’n student – hy was ’n vriend, ’n broer, ’n toegewyde student en een van ons (seniors wat eerstejaars help tuis voel); ’n waardevolle deel van ons koshuisgemeenskap.
“Sy teenwoordigheid sal baie gemis word, en die verlies laat ’n swaar las op ons hart. Hy sal altyd deel bly van hierdie Hombré-familie. Kom ons eer sy nagedagtenis deur mekaar in die komende dae met deernis, begrip en eenheid te ondersteun,” skryf sy koshuismaats.