On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Protes weens ernstige finansieringskrisis by Helen Bishop-tehuis in Kimberley

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:32 Tue, 13 May 2025

Protes weens ernstige finansieringskrisis by Helen Bishop-tehuis in Kimberley | News Article
Mense buite die tehuis. Foto verskaf

Woedende betogers het Dinsdagoggend (13/5) buitebande aan die brand gesteek tydens ’n protesoptrede buite die Helen Bishop- ortopediese nasorgtehuis in Kimberley oor die instelling se ernstige en voortdurende finansieringskrisis.

OFM Nuus het voorheen berig die veiligheid en welstand van die 61 inwoners by die nasorgtehuis is weer in gedrang. Die tehuis se maandelikse finansieringstekort beloop R150 000. 

Maruping Lekwene, LUR vir gesondheid, swyg ten spyte van herhaalde pleidooie om hulp. Theo Joubert, Noord-Kaapse VF Plus-wetgewerlid, sê sy party het vroeër vanjaar ingegryp en wou by Lekwene weet waarom die instelling se kontrak nie hernieu word nie.

Bande was gebrand tydens die protes. Foto verskaf

In Februarie het Joubert geëis dat die provinsiale gesondheidsdepartement aanspreeklik gehou word vir wat hy as “growwe nalatigheid” beskryf het. “Die tehuis is in ’n kritieke toestand, en die departement se versuim om voldoende subsidies te verskaf, plaas die lewens van hierdie kinders in gevaar.”

Die VF Plus vra Lekwene nou in ’n amptelike skrywe om dringend in te gryp.

Helen Bishop verskaf reeds langer as 75 jaar noodsaaklike sorg aan kinders met ernstige gestremdhede, insluitend serebrale verlamming en spina bifida. Hierdie kinders verg dag en nag versorging, insluitend voeding, bad, doeke ruil, aantrek en mobiliteitshulp – aangesien hulle byna geheel en al van ander afhanklik is.

‘Noord-Kaapse gesondheid dobbel met gestremdes se lewe’ – VF Plus | News Article

Helen Bishop Huis in Kimberley. Foto: Facebook

Die tehuis se huidige tussentydse kontrak sluit egter vergoeding vir noodsaaklike mediese personeel uit. “Ons sukkel nie net met ’n begrotingstekort nie,” het die voorsitter van die raad, Rodger Adams, vroeër aan OFM Nuus  gesê. 

“Ons het ook te doen met vertraagde betalings, ’n gebrek aan behoorlike toesig en swak kommunikasie van die departement.” 

Joubert veroordeel die departement se hantering van die saak en noem die nalatigheid daarvan “roekeloos”. “Ons het reeds vroeër vanjaar aan die LUR vir gesondheid, Maruping Lekwene, en die departementshoof, Mxolisi Mlatha, geskryf en aanspreeklikheid geëis – vir hul optrede, of liewer, hul gebrek aan optrede.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.