Central SA
Tiener van Parys reeds amper twee weke vermis─── ZENANDE MPAME 10:05 Tue, 13 May 2025

Die soektog duur voort na ’n tiener van die Noord-Vrystaat wat reeds amper twee weke gelede as vermis aangemeld is.
Deidra Bonolo Seitheiso (16) is Donderdagmiddag 1 Mei by ’n vulstasie op Parys gesien.
Adri Seitheiso, haar ma, sê sy het Maandag (12/5) boodskappe van haar dogter ontvang waarin sy om verskoning vra vir wat aan die gang is en sê dat sy verward is en nie weet waar sy is nie. “My dogter het vir my gesê dat sy vir omtrent 'n week lank nie geweet het waar sy is nie, maar dat iemand met die naam Sammy haar help,” sê Adri.
“Dit lyk asof my dogter deur ’n mensehandelsindikaat ontvoer is. Wanneer ons probeer om meer inligting uit haar te kry, raak sy stil en haar foon is weer afgeskakel, so ons kan nie meer uitvind nie.
“Ek het gister (Maandag) vir haar probeer sê sy moet vir my haar ligging stuur, dan gaan haal ek haar. Deidra is regtig deurmekaar, want sy dink sy kom vandag (Dinsdag) huis toe.”
Toe die leerder van die Hoërskool Parys laas gewaar is, het sy ’n rekbroek, ’n kort pienk toppie en swart Superga-stewels gedra. Sy is klein gebou en van gemiddelde lengte. Sy het na bewering ’n taxi gehaal om by ’n vriend op die dorp te gaan kuier, maar sy het nooit weer huis toe gekom nie.
Die boodskap wat Adri Sondag gekry het. Foto verskaf
Haar ma het haar by die Tumahole-polisiekantoor as vermis aangemeld. “Iemand in die taxi kon hoor hoe sy aan ’n onbekende persoon op die foon sê sy is op pad Johannesburg toe,” sê sers. Josephine Rani, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
Haar ma sê sy het Sondag ’n Engelse boodskap van haar dogter se foon gekry, maar sy dink nie dit was van haar nie, omdat hulle tuis Afrikaans praat en nooit in Engels kommunikeer nie.
“Ek kon dadelik agterkom toe ek die boodskap lees dat dit vreemd klink. In die Afrikaanse sin het sy van die woorde verkeerd gespel. Dis buite die kwessie, want sy gaan na ’n Afrikaanse skool.”
Deidra is reeds amper twee weke gelede as vermis aangemeld is. Foto verskaf
Sy sê sy hoop van harte haar dogter sal wel Dinsdag huis toe kom.
Enigeen met inligting oor waar Deidra haar bevind, word gevra om speursers. Mzwandile Caleni dringend by 082 465 3140 te bel of Stop Misdaad by 08600 10111.